Nog geen hofsake teen e-tolwanbetalers – Outa

etolhekke in gautengDie Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) het Maandag gesê dat geen regstappe tot dusver gedoen is teen motoriste wat nie hul e-tolrekeninge betaal het nie.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het nog niemand gedagvaar nie, andersins sou ons daarvan geweet het,” het John Clarke, Outa se woordvoerder, gesê. “Hulle behoort al regstappe gedoen het, want hulle het genoeg tyd gehad sedert die stelsel in Desember in werking gestel is.”

Clarke het gesê daar is probleme met die e-tolfaktuurstelsel en dit kan wees waarom Sanral versigtig is om die howe te nader.

“Hulle is bewus van die chaos in hul faktuurstelsel en dat landdroste nie tevrede sal wees daarmee nie. Die eerste e-tol-hofsaak sal heel waarskynlik eers na vanjaar se verkiesing plaasvind,” het hy bygevoeg.

Die e-tolstelsel is op 3 Desember in werking gestel ten spyte van verskeie pogings om dit te verhoed.

Vusi Mona, Sanral se woordvoerder, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Intussen het die Vereniging van Regsprekende Amptenare (Joasa) sy kommer uitgespreek oor die objektiwiteit van regters wat e-tolsake sal moet oorsien, het Beeld Maandag berig.

Altesaam R17 miljoen van die regering se pensioenfonds, waaraan regters ook behoort, is na bewering in die e-tolstelsel belê.

Nazeem Joemath, Joasa se president, het gesê regters sal indirek baat vind by die sukses van die e-tolstelsel. “Hoe kan ‘n regter argumenteer dat ‘n beskuldigde dus ‘n regverdige verhoor sal kry? ” het Joemath gesê.

Volgens die koerant het Dipuo Peters, die minister van vervoer, vroeër vandeesmaand bevestig dat tussen 23% en 28,6% van die 2,5 miljoen motoriste wat van Gautengse hoofweë gebruik maak, reeds e-tolskyfies gekoop het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.