Nog geen moordklag ná 10-jarige sterf

Miguel Louw se gedenkdiens (Foto: Leon Lestrade/ANA)

Mohammed Vahed Ebrahim, die slagter van Phoenix wat daarvan beskuldig word dat hy die 10-jarige Miguel Louw ontvoer het, het Woensdag vlugtig in die Durbanse landdroshof verskyn.

Ebrahim is egter nog nie van moord aangekla nie en sy aansoek om borgtog is verleng.

Hy het lank ná sy verskyning nog in die hofgebou bly wag terwyl ondersteuners van die vermoorde kind se familie en lede van die gemeenskap buite die hof vir hom gewag het.

Louw het op 17 Julie naby sy skool in Sydenham verdwyn. Sy erg ontbinde liggaam is uiteindelik op 3 September, ongeveer 25 km vanwaar hy verdwyn het, gevind. Sy liggaam is in ʼn vlak graf, ʼn paar honderd meter van Ebrahim se huis, gevind. Sy identiteit is eers nege dae later deur DNS-toetse bevestig.

Miguel se ouma het in die hof gehuil en om geregtigheid gesmeek terwyl familielede haar weggelei het. Teen die tyd dat ander familielede opgedaag het, was Ebrahim se verskyning reeds verby.

Ebrahim het aan verslaggewers gesê hy is “hartseer” oor die publiek se reaksie op die saak en het bevestig hy en lede van sy familie het dreigemente ontvang. ʼn Paar persone het hom in die hof ondersteun. Een van die vroue het aan verslaggewers gesê sy wil graag geregtigheid vir die kind sien, maar glo Ebrahim is onskuldig totdat hy skuldig verklaar is.

ʼn Opstootjie het buite die hof plaasgevind toe ondersteuners van Miguel se familie die vrou voorgekeer het. Miguel se pa, Kirk, het ook Ebrahim voorgekeer en hom toegesnou. Ebrahim het homself vinnig uit die voete gemaak.

Landdros Mohammed Motala het die saak tot 5 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.

Polisieminister Bheki Cele het in September tydens Miguel se gedenkdiens gesê Ebrahim se aansoek om borgtog sal “gedaag word” omdat “die staat se saak sterk is”.

Ebrahim is in Julie in hegtenis geneem in verband met Miguel se ontvoering. Hy is later van mensehandel beskuldig. Hy is vrygelaat op borgtog van R2 500 net voor Miguel se liggaam gevind is. Hy is deur kringtelevisiebeeldmateriaal met Miguel se verdwyning verbind waar daar gesien word hoe hy die seun na ʼn kitskosrestaurant naby sy skool neem. Hy het ook die seun se geboortesertifikaat in sy besit gehad.

Ebrahim, wat die gesin ken, het enige betrokkenheid by Miguel se verdwyning ontken.

Lees alle vorige berigte oor Miguel Louw op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

willie ·

Hoe kan hy in die hof verskyn as daar nie ‘n klag teen hom is nie. Daar moet ‘n aanklg teen hom wees om aansoek te doen vir borg.

willie ·

Hoe kan hy aansoek doen om borgtog as daar geen aanklag teen hom is nie? Hoe kan hy ook in die hof verskyn sonder enige aanklag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.