Nog geen oplossing in goudsektor-onderhandelings

Argieffoto

Onderhandelings tussen vakbonde en die goudmynbedryf sal vandag voortgesit word nadat AngloGold Ashanti, Harmony, Sibanye-Stillwater en Village Main Reef Dinsdag ʼn voorwaardelike loonaanbod ter tafel gelê het.

Die maatskappye het in ʼn verklaring gesê die vakbonde se aanvanklike looneise sou die volhoubaarheid van ou en marginale myne ernstig beïnvloed.

Motsamai Motlhamme, hoofonderhandelaar van die maatskappye, het gesê die werkgewers kan nie voldoen aan al die eise van die vakbonde nie. “Dit is onbekostigbaar en sal die volhoubaarheid van ou en marginale myne erg beïnvloed – veral die bedryf se vermoë om aan te hou om werksgeleenthede en voordele aan alle werknemers te verskaf.”

AngloGold Ashanti, Harmony, Sibanye-Stillwater en Village Main Reef het Dinsdag met verteenwoordigers van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), the National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en UASA vergader.

Die onderhandelings het reeds op 11 Julie begin. Die maatskappye het in ʼn verklaring gesê hulle het in ʼn poging om konsensus te bereik ʼn voorwaardelike aanbod vir drie jaar ter tafel gelê.

Vir die eerste jaar wissel die aanbod van ʼn 6,2%- tot 8,2%-verhoging vir kategorie 4- ondergrondse werkers en van ʼn 4%- tot 5%-verhoging vir myners, ambagsmanne en amptenare.

Volgens Motlhamme sluit die nie-looneise waarop daar toegewings gemaak is onder meer in die verhoging van die mediese bydraes vir kategorie 4 tot 8 werkers vir die tydperk van die ooreenkoms, die verhoging van die mediese onbevoegdheidvoordeel tot R60 000 oor drie jaar en ʼn verhoging van die minimum skeidingsloon van R36 000 oor drie jaar.

NUM het aangedui dat hy die aanbod verwerp en dat dié unie amptelik ʼn dispuut sal verklaar.

Die onderhandelings word vandag voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Optimus Prime ·

dis hoogtyd dat hierdie unies wat net lede geld neem begin om hulle werk te doen die myn huise is besig om te mors met julle doen vir n slag julle werk en kry n beter aanbod wat is 4 of 5 persent dis n klap in ons gesig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.