Nog geen spoor van vermiste bejaarde (82)

Karl Reich (82) word sedert Maandag vermis. Foto: Facebook

Die familie van ʼn bejaarde man van Welkom in die Vrystaat wat al sedert Maandagoggend vermis word, sê hulle het tot dusver nog geen tyding ontvang van wat moontlik van hom geword het nie.

Karl Reich (82) se skoonseun, Johan Ferreira, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê die polisie werk hard om sy skoonpa op te spoor, maar kon nog geen leidrade kry nie.

Ferreira vertel sy skoonpa se huisalarm het Maandag omstreeks 06:00 afgegaan. Die veiligheidsmaatskappy het Reich, wat alleen in sy huis in Jim Fouchépark woon sedert sy vrou, Marie, sowat agt jaar gelede oorlede is, gebel. Hy het hulle verseker niks skort nie.

Omstreeks 07:00 het Reich die alarm weer geaktiveer, maar bure het later die oggend onraad vermoed toe hulle sien die erf se hekke staan oop en ligte brand in die huis.

Hulle het die polisie ontbied, wat vasgestel het albei Reich se voertuie is weg, ʼn wit Kia Cerato met registrasienommer FDC861FS en ʼn goudkleurige Honda Civic met registrasienommer DSS377FS.

“Al die selfone en goed was nog net so in die huis,” sê Ferreira. “Alles was netjies en dit lyk nie of daar ʼn struweling was nie. Daar is ook geen teken van gedwonge toegang nie.”

Konst. Kethabile Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn vermiste persoon-saak is by die polisie aanhangig gemaak.

Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Welkom-polisiestasie by 057 391 6011 of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

honourable member ·

Ag dis vreeslik. Hoop die oom word gou gekry. Sterkte aan die familie in hierdie onsekere tyd.

Gesiggie ·

Ek Bid dat Mnr Reich veilig terug sal kom na sy familie, en dat hy nie beseer is….mag hierdie nie slegte nuus wees… dit is baie snaaks dat net sy voertuie weg is? Hoop om vining goeie nuus te ontvang… sterkte aan die familie, kan dink dat hul deur n swaar tyd gaan. hoop net die polisie sal vinnig optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.