Nog geen staatstoelaag vir plek van veiligheid

Môrester-kinderhuis

Môrester-kinderhuis Foto: Lulie Swanepoel, iLead Online (ilead.co.za)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling moet glo binne drie dae ‘n verduideliking gee waarom Môrester, ‘n plek van veiligheid in Rustenburg, al sedert 2013 nog geen staatstoelaag ontvang het nie.

“Solidariteit Helpende Hand het sy regsadviseurs opdrag gegee om Dinsdag ʼn aanmaning te stuur aan die direkteur-generaal van die departement van maatskaplike ontwikkeling, asook aan die hoof van die Noord-Wes provinsiale departement vir maatskaplike ontwikkeling,” het Mariné Jacobs, woordvoerder van Helpende Hand, in ‘n verklaring gesê. “Môrester, wat tans ongeveer 50 kinders huisves, het ook die afgelope ses maande geen terugvoer oor sy aansoek om herregistrasie ontvang nie.”

Môrester is ʼn niewinsgewende organisasie en plek van veiligheid in Rustenburg, en is sedert 2010 geregistreer om tydelike huisvesting vir kinders te bied wat ingevolge die Kinderwet uit hul omstandighede verwyder moes word en in veilige bewaring geplaas is. Die instansie se amptelike registrasie as ‘n plek van veiligheid het egter in Desember 2013 verval en is steeds nie hernu nie, ten spyte van verskeie aansoeke om herregistrasie en talle vrugtelose en frustrerende pogings van Môrester se bestuur om terugvoer rakende hul aansoek te kry.

“Dit is werklik onaanvaarbaar dat hierdie instansie so moet sukkel om herregistreer te word,” sê Isabel Faurie, ʼn maatskaplike werker by Helpende Hand. “Indien daar ‘n probleem met Môrester se aansoek was, moes die provinsiale departement onmiddellik terugvoer in hierdie verband gegee het. Hulle ignoreer bloot alle korrespondensie en versoeke vir terugvoer vanaf Môrester. Terselfdertyd plaas die departement steeds kinders by die instansie, ten spyte daarvan dat die instansie as gevolg van die departement se slordige administrasie en oënskynlike onbevoegdheid nie meer ‘n wettig geregistreerde instansie is nie.”

Sy beklemtoon dat daar ‘n reusetekort aan geregistreerde plekke van veiligheid en kinderhuise in Suid-Afrika is. “As Môrester gedwonge sy deure moet sluit, wat sal van hierdie kinders word? Baie van hierdie kinders is reeds jare by Môrester, al vereis die wet dat hulle nie langer as ses maande in ʼn plek van veiligheid moet wees nie.”

Môrester het sedert sy ontstaan nog nooit op ʼn gereelde basis sy maandelikse staatstoelae ontvang soos statutêr bepaal word nie. Alhoewel die instansie sporadies lomp bedrae vanaf die departement ontvang het, is dit nie naastenby die bedrag wat regtens aan hulle verskuldig is nie. Die laaste betaling wat ontvang is, was in Maart 2013.

“Volgens wetgewing moet ‘n geregistreerde plek van veiligheid wat aan al die kriteria voldoen, ‘n maandelikse staatstoelaag per kind wat in die instansie se sorg geplaas is, ontvang,” sê Tertius Kruger, ‘n regsadviseur wat namens Helpende Hand optree. “Môrester het egter nooit sy toelae ontvang soos wetlik verpligtend is nie, ten spyte van talle versoeke aan die betrokke departement. Maatskaplike werkers gaan voort om kinders by die instansie te plaas, en Môrester moet dan uit hul eie sakke vir hierdie kinders sorg.”

Hy verduidelik dat die instansie nie langer finansieel daartoe in staat is om sonder enige finansiële ondersteuning van die staat te funksioneer nie. “Ons almal weet dat die staking by die platinummyne in die Rustenburg-omgewing die hele platinumgordel ekonomies op sy knieë gedwing het. Besighede en ander organisasies kan eenvoudig nie meer bekostig om skenkings aan plekke soos Môrester te maak nie. Dit sal beteken dat die instansie binnekort sy deure sal moet sluit, wat meer as 50 kinders sonder heenkome sal laat,” het Kruger bygevoeg.

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is die organisasie bereid om te doen wat nodig is sodat Môrester spoedig herregistreer kan word en dadelik sy nodige toelae ontvang. “As ‘n organisasie wat weet dat die toekoms van hierdie land grootliks in die opheffing van sy kinders lê, kan ons nie toekyk hoe administratiewe rompslomp van die staat weerlose kinders benadeel en hul reeds hartseer lewensomstandighede verder ontwrig nie. Indien ons hierdie saak voor die hof moet bring om te verseker dat Môrester regverdig behandel word, is dit wat sal gebeur. Ons kan nie langer toekyk hoe die staat in sy maatskaplike verantwoordelikhede faal en ons kinders in die steek laat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tess ·

Ai tog, ek hoop hier sal nou spoedig opgetree word sodat Môrester uiteindelik finansieel geholpe sal raak. Mens sidder om te dink wat van die kinders gaan word indien die deure gesluit moet word.

Viena ·

Verseker geen ongerymdhede van mev Helen Lotz se kant af nie. Hierdie mense buig agteroor om ‘n veilige, skoon en kindervriendelike omgewing vir die kinders te skep. In plaas van kritiseer, kan die mense dalk eerder aanbied om dinge soos kos, doeke, klere ens te skenk.

Jacqueline Fourie ·

Die kinderhuis is vir reeds baie lank bekend aan my en ek is al vir ‘n klomp jare betrokke by die huis. Sal bly wees as daar uiteindelik iets gedoen kan word om te verseker daar is gereelde inkomste. Hierdie mense verrig uitstekende werk en moes nog altyd op skenkings staatmaak van die publiek se kant af….dit is nie ‘n grap om die huise met geen vaste inkomste aan die gang te hou nie. Word die kinders se belange regtig op die hart gedra deur die maatskaplike werkers wat hulle daar kom plaas? Beslis nie want hulle behoort te weet dit kos geld om hierdie kinders te voed, te huisves ens. Môrester het nogal altyd probeer maar wanneer gaan hulle regtig die ondersteuning van die staatsdepartemente kry?

Dankie Solidariteit Helpende Hand!

Lulie ·

Maroela Media, mag ek vra waar het julle die spesifieke foto gekry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.