Nog geen teken van vermiste Kaapstad-egpaar

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Twee maande nadat ʼn egpaar van Kaapstad in raaiselagtige omstandighede vermis geraak het, en ondanks ʼn intensiewe ondersoek deur die Valke, is daar steeds geen teken van hulle nie.

Intussen sal vier verdagtes vandeesweek weer in die Verulam-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn op aanklagte wat verband hou met die egpaar se verdwyning.

Maroela Media het vroeër berig Rodney (73) en Rachel (64) Saunders het op 8 Februarie vermis geraak terwyl hulle besig was om ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey te verfilm. Hulle is vermoedelik in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer. Die egpaar se voertuig, ʼn Land Cruiser, is later in Durban opgespoor, sowat 300 km van waar hulle vermis geraak het.

Sayfydeen Aslam del Vecchio (37) en Fatima Patel (27), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is en glo bande het met die Islamitiese Staat (Isis), en Thembamandla Xulu (19), wat by die eerste twee beskuldigdes gewoon het, is later in Februarie in hegtenis geneem in verband met die egpaar se verdwyning. Op 22 Maart is ʼn vierde verdagte, Ahmad Jackson Mussa, ook bekend as “Bazooka”, in hegtenis geneem.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Dinsdag mediaberigte ontken dat Mussa glo erken het dat hy die egpaar vermoor en aan die Valke gewys het waar hy die liggame gestort het. Volgens Ramovha steek daar ook geen waarheid in berigte dat die Valke ʼn liggaam gevind het wat vermoedelik dié van Rodney kan wees nie.

“Ek kan glad nie hierdie bewerings bevestig nie. Daar is in die stadium nog geen teken van die egpaar nie en niks nuuts in die ondersoek wat bevestig kan word nie. Ons soektog na die egpaar en ondersoek in die saak duur voort,” het hy gesê.

Del Vecchio, Patel, Xulu en Mussa staan almal tereg op onder meer aanklagte van ontvoering, aanranding en roof. Tydens ʼn vorige hofverskyning van Del Vecchio, Patel en Xulu het die hof gehoor daar word vermoed dat die beskuldigdes die Saunders-egpaar ontvoer en aangerand het, asook die egpaar se Land Cruiser en meer as R700 000 uit hul bankrekening gesteel het.

AO Anuresh Lutchman, die ondersoekbeampte in die saak verbonde aan die Valke se eenheid vir misdade teen die staat, het in ʼn verklaring wat aan die hof voorgehou is, gesê die staat het bewyse van vele geheime gesprekke op gekodeerde platforms wat tydens die verhoor as bewyse gebruik gaan word.

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

“Op 9 Februarie 2018 was daar gesprekke om voor te berei om die kuffar [ʼn ongelowige] te vermoor, hul bondgenote te ontvoer en om infrastruktuur te vernietig om angs in die hart van die kuffar te plaas,” lui Lutchman se verklaring.

“Op 10 Februarie het Del Vecchio aan Patel en Bazooka genoem dat daar ʼn bejaarde egpaar in die woud is, dat die egpaar ʼn “goeie jag” is en dat hulle toerusting het. Die gesprek het tussen die beskuldigdes voortgegaan en later het hy [Del Vecchio] bevestig dat hy die teikens het.”

Lutchman sê verder op 10 Februarie, in ʼn onverwante gesprek, het Del Vecchio leiding gegee deur die volgende te noem: “Wanneer die broers in Kenia uitgaan om die werk te doen, is dit belangrik dat die liggaam van die slagoffer nooit gevind word nie en dit ʼn saak van ʼn vermiste persoon bly.”

Luidens die verklaring het Del Vecchio enkele dae later in ʼn gesprek op Telegram, ʼn gekodeerde app vir slimfone, bevestig hy “vat baie geld van ʼn kitsbank”. Lutchman se verklaring beskryf ook hoe hy ʼn Isis-vlag op Del Vecchio en Patel se perseel gevind het.

Lutchman noem dat Patel ook kontak gehad het met Tony Lee en Brandon-Lee Thulsie, die sogenaamde “Terreur-tweeling” wat in Julie 2016 in Johannesburg in hegtenis geneem is op aanklagte wat met terrorisme verband hou.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ai nee ·

Daar was dan intussen ‘n storie dat hulle gekry is en dat die plek waar hulle oornag het net nie opvangs/sein gehad het nie maar dat die bestuurder van die lodge bevestig het dat hulle een nag daar oorgeslaap het? Was dit fake nuus? Arme mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.