Nog geen teken van vermiste Mooinooi-vroue

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. Foto: Via Facebook

Daar is steeds geen teken van Joey van Niekerk (32) en Anisha van Niekerk (30) wat verdwyn het nadat hulle Sondag by ʼn kleinhoewe in die Mooinooi-omgewing in Noordwes weggery het op pad Pretoria toe nie.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie soek onverpoosd na die twee vroue, maar kon hulle nog nie opspoor nie.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is Sondag omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe bly. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was in ʼn wit Nissan X-trail-sportnutsvoertuig met die registrasienommer JJK 781 NW op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar het nooit Sondag hul eindbestemming bereik nie. Hulle het ook nie Dinsdag die roudiens bygewoon nie.

Drie mans is Donderdag in verband met die vroue se verdwyning in hegtenis geneem. Talane het vroeër gesê persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in die verdagtes se besit gevind.

Die drie mans het Vrydag in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg. Die saak is tot 22 Desember uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

Enigiemand met meer inligting oor die twee vroue se verdwyning word versoek om ao. Christiaan Robinson by 082 643 6137 of 014 574 5000 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Weet hulle nie om die verdagtes te laat sing soos kanaries nie, bewys is dan in hul besit gekry.

Duimpie ·

Dalk is die vlgde kommentaar meer vanpas: Beloof elkeen ‘n nuwe huis, kar en ‘n maandelikse inkomste plus gratis universiteitsopleiding. Klink dit nou beter? O ja, ook sommer ‘n soentjie . . .

Buitestander ·

Ons landswette is van so ‘n aard dat jy nie iemand kan gedwing om te “sing” sonder om wette te oortree nie.

Anna-Marie Labuschagne ·

Die bewyse in hul besit kon hulle opgetel het. Die dames sal moet opgespoor word. Dit is nou in polisie se hande om die teendeel te bewys. Dit is hartseer, maar feite. Hoe lank kan hulle in aanhouding gehou word totdat hulle opgespoor word?

Buitestander ·

Ons landswette is van so ‘n aard dat jy nie iemand kan gedwing om te “sing” sonder om wette te oortree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.