Nog geen vergoeding vir veerboot-slagoffers

Die reddingsoperasie (15 September 2017) Foto: NSRI

ʼn Kanadese toeris, wat beserings opgedoen het toe ʼn veerboot van Robbeneiland probleme ervaar het, het tot dusver nog nie enige vergoeding ontvang nie.

Altesaam 68 persone, insluitend vier bemanningslede, moes op 15 September in Kaapstad gered word toe water by die passasierveerboot Thandi ingelek het.

Bill Slade, van Kanada, het ʼn rib gekraak en longontsteking opgedoen as gevolg van verkluiming.

Die Demokratiese Alliansie het in ʼn verklaring gesê Slade en die ander toeriste het ʼn maand ná die voorval nog steeds nie enige vergoeding ontvang nie. Slade se kamera is ook beskadig en hy het ook nie enige reaksie gehad op navrae wat hy gedoen het nie.

Beverley Schäfer, woordvoerder vir die DA in die Wes-Kaap, het gesê sy doen ʼn beroep op die Robbeneiland-museum om dringend kontak te maak met elkeen van die passasiers wat by die voorval betrokke was en om vir hulle vergoeding aan te bied vir enige verliese wat hulle gely het. “Ek is bereid om bystand te lewer in die verband, deur enige relevante eise aan die betrokke owerhede oor te dra.”

Schäfer het gesê sy het die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) ook skriftelik versoek dat die agentskap se verslag oor die voorval publiek bekend gemaak sal word. “Dis in die belang van deursigtigheid en aanspreeklikheid om te weet wat gebeur het,” het sy gesê.

Die museum het op 13 Oktober aan die parlementêre komitee oor toerisme gesê hulle het versekering beskikbaar, en alhoewel hulle nie wetlik verplig word nie, is dit ʼn goeie ding om te doen.

Schäfer het gesê as die museum ʼn “morele entiteit met integriteit” is, sal hulle dadelik vergoeding beskikbaar maak aan die passasiers wat by die voorval betrokke was. Sy het bygevoeg dit kan Kaapstad en Suid-Afrika se toerismebeeld skade berokken indien daar nie met die persone gekommunikeer word en vergoeding aangebied word nie. “Ons kan nie toelaat dat sulke nalatigheid enige onnodige skade berokken of ongerief veroorsaak vir die 370 000 toeriste wat Robbeneiland jaarliks besoek nie. Ons kan ook nie toelaat dat die Wes-Kaapse toerismebedryf hierdeur benadeel word nie; duisende mense word deur dié bedryf in diens geneem.”

Lees alle vorige berigte oor Robbeneiland op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.