Nog g’n teken van 17-jarige wat in see verdwyn

(Foto: NSRI)

Die soektog na die 17-jarige Ryder Kossatz wat Woensdag in die see by Llandudno in Kaapstad verdwyn het, is Donderdagoggend voortgesit.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die NSRI op Bakoven omstreeks 15:44 na die Llandudno-strand ontbied. ʼn Ooggetuie het gesien hoe die tienerseun in sleurstrome vasgevang word nadat hy deur golwe van die rotse afgeslaan is, en het hulp ingeroep.

Die seun is die laaste keer in die seebranders tussen 300 m en 400 m van die kus gesien.

“Die NSRI se reddingswemmers is na die toneel, terwyl reddingsbote op see na die vermiste tiener gesoek het. Die polisie se duikeenheid, Wes-Kaapse nooddienste, EMS/AMS Skymed-reddingshelikopter en ander ambulansdienste is ook na die toneel ontbied,” sê Lambinon.

Die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is van die voorval in kennis gestel en het ook dadelik bystand verleen.

“Ondanks ʼn uitgebreide see-, lug- en kuslynsoektog was daar geen teken van die tiener nie. Die soektog duur voort.”

Ryder se familie het hul dankbaarheid te kenne gegee vir almal wat na hom help soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charles ·

Nee wat. As die see jou vat dan soek jy nie meer die lewe na n dag nie, maar die hartseer nagegevolg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.