Nóg grondgrype die afgelope naweek, talle vas

Die Rooimiere help die polisie om die skare in Hermanus uiteen te jaag. Foto: Twitter via @REDANTS_SA.

Vyf mense het Maandag in die Midrand-landdroshof verskyn ná twee voorvalle van pogings tot grondgrype in Johannesburg.

Kapt. Granville Meyer, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep van sowat 500 mense het Saterdag omstreeks 07:00 by Marlboroweg bymekaargekom en gepoog om ʼn stuk grond wat aan die Universiteit van die Witwatersrand behoort onwettig te beset.

Die polisie het volgens Meyer ingetree en die skare uiteengedryf. Van die mense het toe na die private luukse Waterfall-landgoed in Midrand beweeg.

Daar was sowat 2 000 mense betrokke by die Waterfall-voorval, het Meyer gesê. Vyf mense is in hegtenis geneem op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging nadat hulle lemmetjiesdraad geknip het om toegang tot die landgoed te verkry.

Jaco Mulder, die VF Plus se provinsiale leier in Gauteng, het gesê
die EFF se betrokkenheid by onlangse grondbesettingpogings in Gauteng moet ondersoek word.

“Die SAPD het vyf mense in hegtenis geneem vir opsetlike saakbeskadiging en kon in al die gevalle die skare stuit nadat die grondeienaars ʼn hofbevel verkry het. Talle mense geklee in EFF-drag het in albei die voorvalle prominente rolle gespeel. Dit is bekend dat Julius Malema, leier van die EFF, telkens tydens openbare geleenthede ʼn beroep op mense doen om grond van hul keuse te identifiseer en te beset,” het Mulder gesê.

Hy het gesê die VF Plus-leierskap gaan die aangeleentheid verder ondersoek en toesien dat die nodige stappe gedoen word om soortgelyke voorvalle te verhoed.

In ʼn onverwante voorval is 21 mense Saterdag in Hermanus in die Wes-Kaap vasgetrek vir openbare geweld ná onrus in Zwelihle naby Hermanus. Die voorval het glo ook oor grondbesetting gegaan.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn groep van sowat 500 mense met gevaarlike wapens het buitebande aan die brand gesteek, rekenaars uit ʼn munisipale gebou gesteel en ʼn private bus aan die brand gesteek.

“Nege mense, waarvan twee minderjarig en die ander 31 en 32 jaar oud is, is Vrydag in hegtenis geneem. Die minderjariges is later vrygelaat ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid,” het Van Wyk gesê.

Van Wyk het verder gesê die geweld het Saterdag voortgegaan en ʼn deel van ʼn munisipaliteitsgebou en ʼn wetstoepassersvoertuig is aan die brand gesteek. Altesaam 21 mense tussen die ouderdom van 20 en 40 is vasgetrek en sou vandag in die Hermanus-landdroshof verskyn op aanklagte van openbare geweld.

Die skare kom by Marlboroweg byeen. Foto: Twitter via @TrafficSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tokkolos ·

En wat gaan daarvan kom net mooi niks bla bla bla Solank MM nou nie vra vir n onderhoud vra me jm is die saak reg want dit is gevolg van sy media blootstelling wat hy kan maak en sê wat hy wil

Net die begin ·

Dis net die begin. Julle gaan sien. As hierdie massas meer raak gaan dit onbeheerbaar word. In normale lande moes weermag al in gegryp het. Maar hierdie gevalle pas net by die groot prentjie in wat vinniger en meer gaan gebeur. Waar niks meer gaan gedoen kan word nie. Hierdie word net van een party beheer.

Alida 2 ·

Vra ek ook.
As hulle oud genoeg is om aan misdaad deel te neem is hulle oud genoeg om gestraf dit word.
Dra die gevolge van jou dade. Minderjarig of nie.

Rynhardt ·

Hierdie grondgrype is buite beheer!Ramaphosa en Malema het dinge aan die gang gesit!Hul gaan in groot getalle kom en op plase en plotte toesak!Oopgrense gaan hierdie chaos nog verder aanhelp!De Klerk en Roelf Meyer dit is die “pragtige” SA wat jul help skep het.????????????????????????????????

Gerrit ·

2000 mense oortree net 5 gearesteer tipies saps onbevoegdheid.

Sarel swartbrand ·

Die skelms steur hulle aan die polisie soos ek my steur aan die DA en dit is nul.

Gawie Makkink ·

Baie ironies dat die manne wat die onwettige grondbesetters verwyder dieselfde rooi oorpakke dra as Julius en sy manne wat hulle aanhits om dit te beset????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.