Nóg groot skenkings vir noodfonds

(Argieffoto)

Nóg groot skenkings is aan die Solidariteit Beweging se noodfonds gedoen.

Maroela Media het vroeër berig die fonds se doel is om hoofsaaklik kinders en bejaardes met noodvoeding te help. Dit moet ook Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bystaan om te sorg dat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis kry.

Die Solidariteit Beweging hou vandag (Dinsdag) ’n aanlyn Helpmekaar-dag ten bate van dié noodfonds. “Die doel van die dag is om ’n reuse-helpmekaarpoging te loods deur die krag van die gemeenskap in te span om mense in maatskaplike nood te help, om sakeondernemings te ondersteun en om kinders te help sodat hulle steeds kan skoolgaan in hierdie onsekere tye,” sê Francois Redelinghuys, woordvoerder van die Solidariteit Beweging.

Die Solidariteit Beleggingsmaatskappy het aangekondig dat hy R250 000 tot die fonds gaan bydra.

“Ons sakemodel is daarop geskoei dat ons dienste aan die gemeenskap lewer en daarom maak ons gemeenskap vir ons saak. Dit is vir ons belangrik om na hul wel en wee om te sien,” het Henk Schalekamp, voorsitter van die Solidariteit-beleggingsmaatskappy, Dinsdag gesê.

Die geld gaan aangewend word om te help met die nood wat weens die Covid-19-pandemie en die gevolglike staat van algehele afsondering ontstaan het, te help verlig.

Schalekamp het ook ander ondernemings wat dienste aan die gemeenskap lewer, genooi om dieselfde te doen en betrokke te raak by noodleningingsprojekte.

“Dit is ʼn voorreg om diegene in nood by te staan,” het Schalekamp gesê.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, by ‘n stapel doeke wat ‘n weldoener gekenk het. (Foto: Helpende Hand)

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het bevestig dat dié organisasie ook ʼn skenking van R100 000 aan die fonds doen.

Dit is deel van ʼn totale skenking van R500 000 wat Sakeliga beskikbaar stel om in verskillende vorme die nood rondom die pandemie te help verlig.

Le Roux sê die tweede R100 000 is reeds geoormerk om regsadvies te subsidieer vir sakeondernemings wat noodsaaklike dienste verrig, maar steeds verhoed word om hul werk te doen.

Die noodfonds het in dié stadium nagenoeg R1,8 miljoen ingesamel. Die Virseker Trust het R1 miljoen hiervan geskenk.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het vroeër gesê die organisasie is baie bekommerd oor die maatskaplike krisis wat weens die Covid-19-pandemie gaan ontstaan.

Volgens Buys is dit veral ouer mense en kinders wat die swaarste getref word, terwyl talle mense se inkomste boonop oornag verminder het.

Helpende Hand het landswyd skenkingspunte, die sogenaamde Josef-silo’s, vir niebederfbare kos, bepaal. Duisende mense en spesifiek kinders wat voorheen hulp uit Helpende Hand se voedingsprojek gekry het, sal hierby baat.

Hierdie hulp word deur Helpende Hand se landswye netwerk van kantore en takke verleen.

Lede van die publiek is ook Dinsdag aangemoedig om skenkings te maak deur ʼn kort video of foto van hulself op hul Facebook-blad, Instagram en op die openbare gebeurtenis #HelpMekaarDag te plaas met die webadres  en die hutsmerke #krisisfonds #hiervirjou #helpmekaardag #solidariteitbeweging. Hulle moet ook ʼn Facebook-vriend wat moontlik sal wil skenk in die plasing byvoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rodger17 ·

Mooi só Solidariteit!Hoop net blankes trek ook voordeel uit skenkings.

Bets ·

Ja dankie vir wat julle doen solidariteit maar ek hoop dit is geskenk vir ons wittes ook mooi so

Eerlik ·

Ek het die sms gekry om te skenk. Wil net graag weet dat daar vir “ons mense” gesorg word siende dat die staat net vir “our people” sorg!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.