Nóg halfmiljoen kinders nie terug skool toe weens pandemie

‘n Bykomende 500 000 leerders het sedert die Covid-19-uitbreking nie weer teruggekeer skool toe nie. (Argieffoto: pixabay)

Suid-Afrika se uitvalkoers onder leerders in die basiese onderwyssektor is op die hoogste vlakke in 20 jaar en ʼn bykomende 500 000 leerders het die skool tydens die Covid-19-pandemie verlaat.

Volgens die jongste Nids-Cram-opname – wat voor die aanvang van die derde vlaag infeksies gedoen is – het ʼn bykomende 500 000 leerders die skoolstelsel teen Mei vanjaar verlaat. Dit is ʼn verdriedubbeling van die 230 000 leerders tussen 7 en 17 jaar oud wat reeds voor die pandemie nie skool bygewoon het nie.

“Of dit ʼn tydelike of permanente situasie is, is nog onbekend. Vorige navorsing wys egter dat hoe langer kinders uit die skool bly, hoe groter is die waarskynlikheid dat hulle permanent gaan uitval.”

Byna alle huishoudings (90%) wat aan die opname deelgeneem het, het gesê dat hulle wel sommige kinders terugstuur skool toe; ʼn aanduiding dat sommige kinders uit die skool gehou word.

En terwyl die uitvalkoers die hoogste in twee dekades is, is skoolbywoning op die laagste vlak in 20 jaar. Die hoogste uitvalkoers is onder diegene in landelike of sogenaamde tradisionele gebiede, in townships of informele nedersettings en onder diegene wat ekonomies swaarkry.

Redes waarom kinders (7-17 jaar oud) nie skool bywoon

  • Gestremdheid/siekte: 16,3%
  • Het nie skoolgeld/help tuis/pas kinders op: 26,3%
  • Druip of presteer nie: 13,1%
  • Skoolinskrywing nie aanvaar: 4,2%
  • Tevrede met vlak van onderwys: 18,6%
  • Ander: 20,2%

Amper ʼn hele skooljaar verlore

Die bykomende uitwerking van kinders wat hul skoolwerk vergeet of verswak het daarmee, is ook groot, veral as onderrig voortgesit word binne die konteks dat die vorige jaar se leerplan bemeester is. (Foto: Unsplash)

In Suid-Afrika woon nagenoeg 13 miljoen kinders – dit is sowat 22% van die algehele bevolking – skool by en 95% van leerders is in staatskole.

Vooruitskattings wys dat die meeste laerskoolleerders tussen Maart verlede jaar en Junie vanjaar tussen 70% en 100% van onderrig verloor het wanneer dit met die klas van 2019 vergelyk word.

“Dit is dieselfde as om te sê dat die gemiddelde gr. 3-kind in Junie vanjaar dieselfde leeruitkomste as die gemiddelde gr. 2-kind in Junie 2019 sal hê.”

Die bykomende uitwerking van kinders wat hul skoolwerk vergeet of verswak het daarmee, is ook groot, veral as onderrig voortgesit word binne die konteks dat die vorige jaar se leerplan bemeester is.

“Gesamentlike leerverliese kan ʼn volle jaar se onderrig verbysteek soos wat leerders deur die skoolstelsel vorder.”

Sterftes onder onderwysers

Na raming het net meer as 2 200 onderwysers (0,57%) van die land se 401 327 onderwysers tussen Maart verlede jaar en Mei vanjaar weens Covid-19 gesterf.

“Die meeste van die sterftes het tydens die eerste en tweede vlae van die pandemie in Julie verlede jaar en Januarie vanjaar plaasgevind.

“Daar is geen ooglopende verband tussen die heropening van skole en ʼn verhoogde verspreiding van die virus nie.”

Die navorsers sê hulle is daarom van mening dat in die lig van hierdie bevindings, tesame met bewyse van die beduidende skade wat weens die ontwrigting van skole aangerig word, daar ʼn sterk saak uitgemaak kan word om voort te gaan met voltydse, daaglikse en tradisionele roosterbywoning van laerskoolleerders.

Hongersnood

Die studie het ook bevind vroue is veel meer geneig om kinders teen honger te beskerm as mans. (Argieffoto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die navorsers het voorts bevind dat sowat 10 miljoen mense en drie miljoen kinders in April/Mei vanjaar in huishoudings gewoon het wat (tydens die insameling van data) die afgelope sewe dae honger ondervind het.

Navorsers sê die opskort van bykomende toelae, soos die R350- spesiale toelaag, gaan waarskynlik tot stygende honger in Suid-Afrika bydra. Die spesiale R350-toelaag is in April vanjaar opgeskort en die data is ingesamel selfs voor dit gedoen is.

“Die verminderde beskikbaarheid van geld vanweë die opskorting van toelae en die benarde ekonomiese situasie is redes waarom vlakke van honger waarskynlik hardnekkig hoog gaan bly of selfs gaan toeneem. Strenger afsonderingsregulasies kan indiensneming en inkomste uit informele ekonomiese bedrywighede selfs verder verminder.”

Suid-Afrika is verlede Sondag, nadat die data reeds ingesamel is, weer onder ʼn strenger vlak van inperking geplaas.

Die vlakke van honger onder kinders neem nie af nie en een uit elke sewe respondente sê dat ʼn kind in hulle huishouding die afgelope week honger gely het. In April/Mei vanjaar het nagenoeg 400 000 kinders en 1,8 miljoen mense in huise gewoon waar hulle bykans elke dag honger was.

Die studie het ook bevind vroue is veel meer geneig om kinders teen honger te beskerm as mans. Dit beteken dat iemand in die huishouding honger gebly het sodat ʼn kind kon eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
thejudge

Hierdie is sowaar die deurmekaarste studie waarvan ek nog gelees het!