Nóg hoogdrama by Zondo-kommissie verwag

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Belangrike getuienis deur die voormalige ANC-LP Zukiswa Rantho gaan Dinsdag sorg dat die Zondo-kommissie waarskynlik die moeite werd gaan wees om dop te hou.

Maandag se getuienis het grootliks gewentel om opposisie-LP’s se getuienis oor hoe hulle meen die ANC se parlementslede nie hul oorsigrol in die parlement uitvoer nie.

Rantho, wat Dinsdag getuig, was die voorsitter van die ad hoc-komitee oor Eskom en die wyse waarop sy verseker het dat ministers en topamptenare van Eskom verantwoordbaar gehou is, het in ʼn groot mate die grondslag gelê vir die manier waarop die geformaliseerde terugvegpoging teen staatskaping tans plaasvind.

Sy het destyds onder kwaai kritiek van verskeie van haar mede-LP’s van die ANC deurgeloop. Sy en haar familie van Aliwal-Noord is met die dood gedreig en sy is nie herkies as ANC-LP nie.

Maandag se twee getuies was die voormalige APC-LP en gewese voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Themba Godi.

Volgens sy getuienis en belewing het Skoor onder sy voorsitterskap uitstekend gefunksioneer en die komitee ministers op groter skaal as tevore aanspreeklik gehou.

Hy het egter gesê ANC-parlementslede het buite Skoor nie hul oorsigrol goed vervul nie en was bang om ministers en senior amptenare verantwoordbaar te hou.

Sy getuienis is onderskryf en uitgebou deur die huidige DA-hoofsweep, Natasha Mazzone, wat verskeie praktiese voorbeelde gelys het van hoe DA-pogings om ministers aanspreeklik te hou, eenvoudig deur die ANC-meerderheid gestoomroller is en hoe ANC-LP’s gesing en gedans het elke keer as pogings tot strenger oorsig misluk het.

Mazzone het ook bewys gelewer van hoe ministers weier om parlementêre vrae te beantwoord, asook hoe sommige van hulle misleidende antwoorde verskaf, met geen gevolge van die kant van die voorsittende beamptes of die hoof van regeringsake (die adjunkpresident) nie.

Die kommissie se getuienisleier, adv. Alec Freund, het uiteengesit hoe die onlangse dood van twee sleutelgetuies, naamlik die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, en die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, die kommissie se werk teruggesit het.

Voorts het oudpres. Jacob Zuma aangedui dat hy weier om voor die kommissie te getuig al het die Konstitusionele Hof hom beveel om dit te doen. Zuma sê dat hy eerder tronk toe sal gaan as om te getuig.

Dit is dan ook presies wat sy voorland is as hy nie van plan verander nie.

Boonop het die huidige direkteur-generaal van korrektiewe dienste, Arthur Fraser, aangedui dat hy die vier getuies wat hom verlede week geïdentifiseer het in verband met korrupsie in die land se spioenasie-agentskappe, sowel as die kommissie se regspan, gaan dagvaar vir onder meer meineed.

Sy voorgenome optrede behoort die werk van die kommissie – en sy verskyning om getuienis te lewer en verantwoording te doen – lank te vertraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

En dan word die koruptes weer ingestem! Ons belasting geld moet begin praat.

Cherokee ·

Die storie van ‘belasting-geld wat moet praat’ en hope duim-oppe kry, is àltyd net ‘n niksseggende sinnetjie. As jy nie kan sê hòe om dit te laat praat nie, is dit sinneloos om dit te sê.

Cd ·

Dankie vir regter Zondo en Skoor.
Die ministers en president is geroskam oor hulle nalatigheid en onvermoe om effektief te regeer.
Dinge wat al vir baie jare aangaan.
Diefstal en korrupsie is maar deel van die ANC.
Hoop Zuma kry wat hy verdien!

Baardman ·

Zuma gaan moontlik n paar maande tronk toe omdat hy weier om te getuig, dan kom hy skotvry vir sy miljoene rande se bedrog

Michael ·

Moenie jou asem ophou nie-groot opstande as hy tronk toe gaan-sal nie maklik gebeur nie

Dries ·

En dan gaan wag Ramaphosa en sy entourage by die lughawe vir n pakkie entstof i.p.v sorteer hy al die diefstal en baie groter probleme in die land uit. ANC is n baie groter pandemie as die virus

gpsa ·

Die problem met die kommissie is dat al hierdie getuies is net iemand se weergawes hoewel dit waarskynlik waar is. Om egter ‘n saak op te bou, om iemand wettiglkik te vervolg is ‘n totaal ander storie, en vat baie meer tyd en geld. Als wat al uitgekom het sal die vervolgings gesag waarskynlik dekades neem om die mense te vervolg.

Dink die vraag moet gevra word of dit finansieel nog sin maak om voort te gaan met sake wat waarskynlik niks van sal kom nie. Meeste wat uitkom was geskryf in Jacques Pauw se boek, so meeste weet ons alreeds en sal elkgeval niks van kom nie.

JohanR ·

Hierdie is nie speelitjies. Regters is omgekoop in die Jacob Zuma era. Die regters se name moet uitkom want as ‘n regter nie eerlik is nie, dan misluk die hele stelsel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.