Nóg huise gebrand oor vermiste tiener

Gomolemo Haraba (Foto: ANA)

Nóg twee huise is Woensdagaand in Rustenburg in Noordwes aan die brand gesteek in verband met ʼn 14-jarige meisie wat Vrydag vermis geraak het.

Maroela Media het vroeër berig drie huise in dié dorp is Dinsdagaand aan die brand gesteek. Kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die polisie, het gesê inwoners beskuldig glo die huurders, wat almal buitelanders is, dat hulle verantwoordelik is vir die verdwyning van die meisie. Volgens Augoustides het die meisie, wat op sosiale media as Gomolemo Haraba geïdentifiseer is, verdwyn nadat sy nooit Vrydag van die skool af teruggekeer het huis toe nie.

Augoustides het gesê een man is reeds Woensdagaand in hegtenis geneem vir die besit van ʼn petrolbom.

“Ons vra vir kalmte in die dorp. Strafregtelike sake [in verband met die brande] word tans ondersoek en dit kan tot vervolging lei. Brandstigting is ʼn ernstige aanklag,” het sy gesê.

Volgens haar is brandbestryders Woensdagaand gedreig toe hulle die vure wou blus.

“Die gemeenskapslede het gedreig om die brandweerwa aan die brand te steek as hulle die brande blus. Hulle het teruggekeer sonder om die brande te blus.”

Stephen Haraba, Gomolemo se oom en die familiewoordvoerder, sê ʼn enkele man word verdink in verband met haar verdwyning.

“Die gemeenskap het glo die man gedreig waarna hy gesê het hy sal haar huis toe bring. Die gemeenskapslede het drie uur gewag, maar hy het met ʼn ander meisie opgedaag. Ons wil haar veilig terug by die huis hê. Die familie is bekommerd – ons weet nie of sy veilig is of wat sy eet nie. Dit is baie moeilik vir die familie.”

Haraba sê die gemeenskap sal nie rus tot Gomolemo opgespoor is nie. Simphiwe Nkosi, ʼn lid van die gemeenskap, het gesê as dit beteken dat mense haar van huis tot huis moet soek, sal hulle dit doen.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting oor Gomolemo se verdwyning kan sers. Ernest Modise, die ondersoekbeampte in die saak, by 060 967 3932 of 073 189 9343 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Straf ·

Ek kyk op na gemeenskappe wat opkom vir geregtigheid waar die polisie vou. Die polisie weet al lankal van daardie huise maar doen NIKS NIKS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.