Nog iemand vas vir sersant se moord

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Nog ʼn verdagte is vandeesweek in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die moord op sers. Joseph Christopher Kutu van die Witbank-taktiesereaksiespan vroeër vanjaar. Dít op dieselfde dag wat die oorledene se vrou en ʼn ander man vir die moord in die hof verskyn het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, sê die jongste verdagte is danksy intelligensiegedrewe inligting by sy huis in Kwaggafontein aangekeer.

Die 24-jarige man sal na verwagting eersdaags in die Emalahleni-landdroshof verskyn waar hy by die ander twee verdagtes sal aansluit.

Die oorlede polisiesersant se vrou, Patricia Mabojane Kutu (28), en haar makker, Vincent Bonginkosi (39), het reeds Dinsdag vir Kutu se moord in die hof verskyn. Hy is in Julie vanjaar in sy huis doodgeskiet.

Bonginkosi is verlede week in die agterkamer van ʼn huis wat hy in ʼn nedersetting buite Witbank huur, in hegtenis geneem. Die sersant se vrou is enkele dae later ook vasgetrek.

Sekgotodi sê nog inhegtenisnemings is op hande en die ondersoek duur steeds voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.