Nóg inwoners behaal oorwinning teen Eskom

Eskom se hoofkantoor. (Foto: Google Maps)

Die appèlhof het beslis dat inwoners van Parys en Vredefort wat onder die Ngwathe-munisipaliteit val, en diegene in Standerton, Sakhile en Meyerville wat onder die Lekwa-munisipaliteit val, se kragvoorsiening nie ingekort mag word omdat die munisipaliteite Eskom nie betaal nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het in Augustus 2020 beslis dié gebruik moet stopgesit word, waarna Eskom hom tot die appèlhof gewend het.

Luidens die appèlhof se uitspraak is die inwoners betrokke by die regsgeding betalende voorafbetaalde klante, terwyl die Ngwathe- en Lekwa-munisipaliteit al jare lank versuim om hul betalingsverantwoordelikhede teenoor Eskom na te kom.

In Februarie 2020 het Eskom besluit om sogenaamde kragvermindering na die dorpe in werking te stel. Parys het in sommige gevalle tot 11 uur lank sonder krag gesit, terwyl dorpe in die Lekwa-munisipaliteit gemiddeld drie keer per dag twee uur lange beurtkrag moes verduur. Die gereeldheid en duur van die kragonderbrekings het nie net sosio-ekonomiese, humanitêre en ekonomiese gevolge gehad nie, dit het ook noodsaaklike dienste, soos die verskaffing van water aan huishoudings en die doeltreffende funksionering van die rioolstelsel, lamgelê.

Sakeliga sê die uitspraak steun omvattend op die sogenaamde Resilient-uitspraak, waarby die organisasie ten nouste betrokke was. In dié saak het die hof bevind eindgebruikers mag nie benadeel word weens die onvermoë of onbereidwilligheid van staatsinstellings om hul geskille behoorlik op te los nie.

“Dit beteken dat Eskom nie eindgebruikers gyselaar mag hou waar munisipaliteite in gebreke bly om hul skulde aan Eskom tydig te vereffen nie. Dit is ʼn gunstige verwikkeling dat die Resilient-regspresedent al hoe meer neerslag vind in ander sake en dat nuutgevonde interregeringsgeskilbeslegting na aanleiding van Resilient benadeling van eindgebruikers beperk,” sê Tian Alberts, regs-en-skakelbeampte by Sakeliga.

Sakeliga sê hy is egter bekommerd oor die neiging dat die geld wat inwoners vir voorafbetaalde krag opdok, eenvoudig nooit by Eskom uitkom nie.

“Dit beteken dat eindgebruikers se voorafbetaalde gelde vir elektrisiteit onnodig deur munisipaliteite verkwis of gesteel word. Dit lei tot ʼn skuldkrisis by Eskom, en uiteindelik dra dit ook by tot nasionale kragonderbrekings, met die hele ekonomie wat skade ly.”

Munisipaliteite se wanbetaling het nou ook gelei tot ʼn besluit om die Sedibeng-waterraad in Noordwes te laat likwideer, terwyl inwoners van dié provinsie, asook diegene in die Vrystaat, al jare lank dae aaneen sonder water sit.

Alberts sê dit is dié tendens – dat inwoners se geld wanbestee word – wat Sakeliga genoop het om die sogenaamde betaalmeester-hofsaak in Noordwes van stapel te stuur. Die saak word na verwagting binnekort aangehoor. In hierdie geval vra Sakeliga verpligte ingryping deur die provinsiale en nasionale regering – ingevolge die Grondwet – by die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteit en die voorbereiding en inwerkingstelling van ʼn finansiële herstelplan deur die nasionale tesourie.

Hangende die inwerkingstelling van dié plan, vra Sakeliga dat die hof ʼn munisipale betaalmeester aanwys wat geld vir dienslewering in ʼn aparte munisipale rekening kan invorder en dit regstreeks aan verskaffers soos Eskom kan betaal.

“Die elektrisiteitskrisis in Standerton, Parys, Vredefort, Sakhile en Meyerville, wat bykans ten volle deur munisipale wanbesteding van ingevorderde diensleweringsgelde veroorsaak is, onderstreep die belang van ʼn betaalmeester-ingryping,” sê Alberts.

“Meer belangrik, egter, dui dit op die onontbeerlikheid van alternatiewe diensleweringsmeganismes wat nie deur munisipale verval gepootjie kan word nie.”

Sakeliga berei intussen voor om betrokke te raak by ʼn saak in die Konstitusionele Hof waar die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) vra vir ʼn verklarende bevel dat munisipaliteite ʼn statutêre en grondwetlike monopolie op elektrisiteitsvoorsiening het. Dit beteken dat eindgebruikers nie elektrisiteit direk by Eskom en privaat verskaffers mag aankoop nie.

“Sakeliga gaan hierdie strewe om dienslewering in die hande van veral vervalle munisipaliteite te monopoliseer ten sterkste teenstaan, sodat gemeenskappe se direkte toegang tot alternatiewe oplossings regtens in stand gehou word,” sê Alberts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris dupreez ·

Die munisipale bestuurders is die verantwoordelike persone en moet aangekla word van diefstal van die belastingbetalers se geld en tronkstraf kry. Te veel van hulle kom skotvry van hierdie dinge af.

SlinkseKoljander ·

Munisipale is dan deel van ANC hoe gaan hulle, hulle self straf?

Ontnugterde senior ·

Munisipaliteite moet hof toe gevat word vir wanbetalings. Ek stel voor Eskom neem die insamel van geld vir elektrisiteit oor. Eskom is gedurig in spervuur maar waar moet hulle geld kry vir instandhouding as niemand betaal nie?

Nico ·

Laat die verbruiker direk aan Eskom betaal, sny die munisipaliteite uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.