Nog Kamfersdam-kuikens vrygelaat

Foto: Verskaf

Sowat 43 van die duisende wees kleinflaminke (Phoenicoparrus minor) wat vroeër vanjaar by die Kamfersdam in die Kimberley-gebied in die Noord-Kaap gered is, gaan in Oktober en November vrygelaat word.

Die voëls is nie vroeër saam met die ander flaminkkuikens vrygelaat nie omdat hulle gebreklik is of aan pokke ly.

Maroela Media het vroeër berig dat die dam weens die droogte in die gebied, asook beweerde wanbestuur en nalatigheid, opgedroog het. In ʼn grootskaalse reddingspoging wat die bekende privaatspeurder Mike Bolhuis van stapel gestuur het, is talle van die voëls by die pan weggeneem.

Bolhuis verduidelik dat dié voëls, wat tans by instansies soos die Nasionale Dieretuin en die Lory Park-dieretuin in Midrand aangehou word, weer sal terugkeer na die Kamfersdam. “Alle vrylatings gebeur altyd weer op die plek waar die dier gevind is, of dit nou die wildtuin of Namibië is. Alle flaminke wat gered is en wat van die flaminkdam kom, gaan terug na Kamfersdam toe.”

In Maart en April volgende jaar sal ʼn verdere 33 flaminke vrygelaat word.

Pokke onder flaminke

Tydens die reddingspoging is daar ontdek dat baie van die flaminkkuikens pokke onder lede het. “Omdat die projek geheel en al uniek is en dit nog nooit voorheen op hierdie skaal gedoen is nie, het daar het ʼn klomp goed na vore gekom wat nou nagevors moet word,” sê Bolhuis.

Sowat 95 voëls word tans vir navorsingsdoeleindes aangehou. ʼn Navorsingsprojek is deur die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling begin wat by Lory Park uitgevoer sal word. Baie siek voëls word ook Onderstepoort toe gestuur vir verdere behandeling.

Die pokke laat nie die voëls onmiddellik vrek nie, maar affekteer hul gesondheid en hul vermoë om te oorleef. “Dit kom voor as sere op hul pote en dit het ʼn effek op die voëls.

“Ons wil weet hoekom kry die flaminke die pokke en hoekom party voëls dit vir net ʼn paar dae kry, terwyl ander maande lank daarmee sukkel. Ons wil ook vasstel of die pokke werklik aansteeklik is. Daar is van die voëls wat op die dam weer pokke gekry het, maar dit het nie versprei na die res van die kolonie nie.”

Deskundiges en navorsers ondersoek tans na die oorsaak van die pokke en hoe om dit te hanteer, hoe dit versprei of nie versprei nie, en hoe om dit soos ʼn griepsituasie te hanteer en te beheer, voeg Bolhuis by. “Ons moet vasstel hoe ons die pokke kan behandel sonder om die voëls te vang, want dit gaan ʼn probleem wees.”

Die kuikens wat tans vir navorsingsdoeleindes gebruik word, sal op ʼn later stadium vrygelaat word. “Sodra ʼn voël genees is van pokke, word dit by die fasiliteite geskei van dié wat nog besmet is. Die voël word dan voorberei vir vrylating.”

Al voëls wat nooit vrygelaat sal word nie, is die gebreklike voëls. “Sommige het net een oog, party het balansprobleme, ander se vlerke is gebreek. ʼn Voël is soos ʼn horlosie, as al die werkende dele nie werk nie, dan gaan die horlosie nie loop nie. As al sy werkende dele nie honderd persent werk nie, kan hy nie deel word van die broeiprogram nie en word hy uit die kolonie geboelie.”

Dié kuikens gaan egter deel vorm van ʼn populasie-versekeringsbroeiprogram by die Nasionale Dieretuin se populasie-beheersentrum. ʼn Volle boerderyhandleiding sal dan hieruit ontwikkel word.

Daar is steeds struikelblokke

Bolhuis vertel dat daar dikwels gevalle van stropery in die omgewing om die dam is. “Die nadeel is dat van die voëls meer gerus is om aan die oewer van die dam te beweeg en dan gevang word. Dit is die nadeel wanneer hulle met die hand grootgemaak is. Ons het ʼn paar van ons flaminke gekry waar daar net ʼn kop en potjies oor was, dan lê die ring waarmee ons hulle gemerk het daar. Ons gee aandag hieraan.

Nog ʼn struikelblok is dat die voëls in kragdrade vasvlieg. “Ons is tans besig met Transnet en al die ouens wat kabels span; dit is meestal kragdrade. Ons is ook besig met beplanning om afweermiddels op die drade in en om die dam te installeer.

“Die afweermiddel hang om die kabel wat soos ʼn modderskerm agter ʼn wiel lyk. Die skerm kan in die rondte draai, maak ʼn woer-woer geluid en reflekteer sonlig. Die voëls tel die geringste beweging op en vermy dan die kabels,” verduidelik Bolhuis.

Hy sê die navorsingsprojek het ook getoon dat die voëls in die aand begin vlieg het, wat dan ander gevare inhou. “Dit is nie iets wat ons al voorheen opgemerk het nie. Daar is baie seldsame dinge wat ons eintlik in die laaste ses maande ontdek het.

“Ons het voëls so ver as Mosambiek, Namibië, Botswana en KwaZulu-Natal opgespoor. Daar was meer as 30 waarnemings van die flaminke. Hierdie voëls het nie ʼn probleem om ver te vlieg nie ­– ʼn flamink is soos ʼn Concorde [vliegtuig]; as hulle eers in die lug is, kan hulle baie ver sweef en gebruik hulle baie min energie.”

Bolhuis het ʼn beroep op die publiek gedoen om enige besigtigings van flaminke aan te stuur na die verskillende instansies wat by die projek betrokke is. “Gaan so naby as moontlik aan die flaminke en neem asseblief ʼn video. Moet asseblief nie hommeltuie gebruik nie omdat die flaminke vreeslik sensitief is vir dié geluide.”

Hy het ook gevra dat enigiemand wat enige geld ontvang het vir die flaminkprojek dit aan dié instansies te openbaar. “Ons wil ook graag weet hoe die geld bestee is. Ons wil verantwoordbaarheid behou vir die projek en ons wil almal bedank wat saamgewerk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DA BO ·

Hier by ons(Velddrif) in weskaap is hierdie jaar duisende flaminke. Meer as ander jare. Hulle wy in die rivier estuary (sorry)ken nie afr woord nie)en soutpanne. Ek het al gewonder of die sout nie n effek op hulle pote het nie, want hulle staan heeldag in die soutwater.??

Attie. ·

Da Bo, wonder liewers of die soutwater nie ‘n walvis aantas nie want hy leef heeldag in soutwater. Dink jy nou regtig ons Skepper het nie aan alles gedink nie. Bekommer jou eerder oor hoe die son dit regkry om nie uit te brand nie, Ons Skepper het gelukkig ook daaraan gedink. Nog vrae ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.