Nog klagte dalk teen drie wat glo goud smokkel

(Argieffoto)

Bykomende aanklagte van geldwassery en bedrog kan moontlik teen drie beskuldigdes aanhangig gemaak word wat met 73,5 kg se goudstawe in hul handbagasie by die OR Tambo-lughawe betrap is.

Die drie vermeende smokkelaars het Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn waar hulle tereg staan op die onwettige handel in edelmetale en oortredings van doeanewetgewing, het kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Multidissiplinêre span bestaande uit lede van die polisie, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeanebeamptes en amptenare van die departement van binnelandse sake het die inhegtenisnemings gedoen nadat inligting van veiligheidsbeamptes op die lughawe ontvang is. ʼn Veiligheidskandeerder het onreëlmatige beelde in die verdagtes se bagasie geïdentifiseer.

Die drie het van Madagaskar na Suid-Afrika gevlieg en was via Ethiopië onderweg na Doebai toe hulle verlede week aangekeer is.

Die Valke stel ook met die hulp van Interpol en owerhede van verskeie lande ondersoek in na die geldigheid van die sertifiseringsdokumente wat die mans verskaf het, asook waar die goud oorspronklik gemyn is.

Daar sal ook vasgestel word na watter land die goudstawe op pad was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.