Nóg klagtes kom teen beweerde ontsnapte

Argieffoto

’n Man wat na bewering vroeër vanjaar uit polisieaanhouding in Noordwes ontsnap het, word maande later deur nóg aanklagte in die gesig gestaar.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê Mpho Ninja Chabalala het op 17 Junie uit die Mmakau-polisiestasie naby Ga-Rankuwa ontsnap waar hy op aanklagte van kwaadwillige saakbeskadiging en twee aanklagte van huisrooftog in aanhouding was.

Die beweerde misdade is in September 2018 en Mei 2019 in die Mmakau-nedersetting gepleeg.

“Hy is [maande ná die ontsnapping] weer in hegtenis geneem nadat hy in die Pretoriase landdroshof verskyn het in verband met ʼn ander saak van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Dié saak is vroeër vandeesmaand in Olievenhoutbosch aangemeld,” verduidelik Myburgh.

Volgens Myburgh het Chabalala onder ’n ander naam in dié saak verskyn. ’n Ondersoek het egter sy ware identiteit ontbloot waarna hy na Brits geneem is om dáár in ’n hof te verskyn in verband met die beweerde ontsnapping.

Chabalala het op 22 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn waar die saak tot 21 November uitgestel is. Hy bly in aanhouding.

Hy word nou verdink van moord, asook verskeie huis-en-sakerooftogte en ’n motorkaping wat tussen Mei en Oktober vanjaar in Ga-Rankuwa, Mmakau en Germiston gepleeg is.

“’n Ondersoek na die saak duur voort en die moontlikheid om Chabalala met meer sake te verbind, kan nie uitgesluit word nie,” het Myburgh gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.