Nóg klagtes teen Malema oor grondbesetting-uitsprake

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dien die klagtes by die Lyttelton-polisiestasie in. Foto: Verskaf

Daar is Dinsdag nog klagtes teen die EFF-leier, Julius Malema, by die polisie ingedien nadat hy die afgelope naweek weereens sy ondersteuners aangemoedig het om grond te beset.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het strafregtelike klagtes van aanhitsing tot betreding teen Malema by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien. Dit volg nadat Malema die afgelope naweek tydens die EFF se verjaarsdagvieringe in Durban weereens verskeie omstrede uitsprake gemaak het.

Malema het onder meer aan sy ondersteuners gesê indien hulle nie ʼn stuk grond het nie, is hulle lafaards. “Gaan identifiseer vir jou ʼn stuk grond net waar jy wil. Dit is jou grond. In my wyk in Seshego het ons dit gedoen. Die eienaar het gekom en gesê hy het geluister en ons kan die helfte vat. As julle nie luister nie, sal julle die hele land verloor. Wit grondeienaars moet hulle grond deel,” het hy gesê.

Die EFF-leier Julius Malema en ander lede van die EFF-leierskap tydens die party se verjaarsdagvieringe in Durban (Julie 2017). Foto: ANA

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het in ʼn verklaring gesê Malema is een van die land se invloedrykste politici en dat aanhitsing tot misdadigheid deur só ’n politieke figuur met die nodige erns aangespreek moet word. “Ons verwag dat die polisie die saak deeglik sal ondersoek en dat die vervolgingsgesag die nodige stappe in hierdie verband sal doen,” het hy gesê.

Malema het reeds verskeie kere in die hof verskyn nadat hy aangekla is van die oortreding van artikel 1(1) van die Wet op Betreding. Dit kom nadat hy in Junie verlede jaar sy ondersteuners in Newcastle aangemoedig het om grond onwettig te beset, omdat die grond “aan swart mense behoort”.

Malema het in Julie weer in die Newcastle-landdroshof verskyn waar die saak tot 1 September uitgestel is. Sy regspan het intussen ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien om die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste te betwis. Die EFF beskuldig die regering daarvan dat hulle “apartheidswette” gebruik om die kritici stil te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

daardie grondeienaar in seshego moes vreeslik geintimideerd gevoel het. Julius, die grond behoort aan die mense wie dit gekoop het. hy kag vir al die sake wat teen hom gemaakvword. daar kom net mooi niks van nie.

Cherokee ·

Hy ignoreer dit omdat die mense wat veronderstel is om sy uitsprake te beveg, so vriendelik is met hom dat hulle hom selfs op sy voornaam aanspreek en nie bloot as malema.

Michael ·

Hoe lagwekkend is hierdie nie maar die ou is nie bang om te se hoe hy voel nie en hy het geen vrees om na wit mense te verwys as wit nie die media is te bang om na swart mense te verwys as swart dan het ek meer respek vir Malema as vir ons media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.