Nóg klagtes teen Manana aanhangig gemaak

Mduduzi Manana. Foto: Flickr/Governmentza.

Hoewel ʼn nuwe klag van aanranding wat teen ANC-LP Mduduzi Manana aanhangig gemaak is vandeesweek binne 24 uur weer teruggetrek is, is dié voormalige adjunkminister van hoër onderwys se probleme oënskynlik nog nie verby nie.

Die DA het Woensdag gesê die party sal aanklagte van korrupsie en afpersing teen Manana aanhangig maak. Die DA se Terri Stander het gesê dít kom nadat ʼn stemboodskap aan die lig gekom het waarop daar klaarblyklik gehoor kan word hoe Manana vir Christine Wiro, sy voormalige huishulp, R100 000 aanbied as “troos” in ruil daarvoor dat sy die aanrandingsklag teen hom teruggetrek het.

“Op die klankgreep probeer mnr. Manana duidelik om me. Wiro geld aan te bied om homself te bevoordeel en verder vervolging vry te spring,” het Stander in ʼn verklaring gesê. “Hy het duidelik onwettiglik en opsetlik probeer om sy mag te misbruik deur haar onder finansiële druk te plaas.

“Ons is bly om te hoor dat die polisie steeds die jongste aanklagte teen hom ondersoek selfs nadat dit teruggetrek is en ons nog blyer om te hoor dat die Nasionale Vervolgingseenheid geweier het om die jongste aanklagte teen hom terug te trek,” het Stander bygevoeg.

“Ons hou vol dat Manana in die tronk hoort en nie in die parlement nie. Hy het sy ampseed verbreek en belastingbetalers moet nie gedwing word om die salaris van ʼn vroueslaner te betaal nie.”

Stander het gesê Manana wou duidelik sy bevoorregte posisie gebruik om te probeer om hom uit aanspreeklikheid uit te koop.

Maroela Media het vroeër berig Wiro het Sondag ʼn klag van aanranding teen Manana aanhangig gemaak nadat sy beweer het hy het haar by die trappe in sy huis in Fourways afgestamp nadat sy die deur vir ʼn gas oopgemaak het sonder sy toestemming. Sy het aan die polisie gesê Manana het haar al voorheen verbaal mishandel, haar lang ure laat werk en gedreig om haar terug na haar tuisland, Zimbabawe, te laat deporteer. Wiro het tussen twee en drie weke lank vir Manana gewerk.

Wiro beweer sy het die aanrandingsklag teruggetrek nadat Manana haar R100 000 aangebied het om dit te doen en omdat sy glo vir haar veiligheid gevrees het. Manana ontken dit en beweer Wiro het hom afgepers om R100 000 aan haar te betaal. Hy ontken ook dat hy haar aangerand het en beweer hy het haar slegs berispe omdat sy “nie sy huisreëls nagekom het nie”.

Manana is verlede jaar in die Randburg-landdroshof tot 12 maande tronkstraf of ʼn boete van R100 000 gevonnis is nadat hy drie vroue by ʼn nagklub in Johannesburg aangerand het. Hy het in Augustus verlede jaar uit sy amp as adjunkminister bedank weens dié skandaal, maar is steeds ʼn ANC-parlementslid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

Vroueslaners leer maar swaar hierdie gewoonte af. Dit is mos lekker om die te intimideer wat swakker as jy is. Gelukkig haal dinge ń mens soms in.

Eish ·

Die einste parlementslid wat geskree het ” Bury them alive” toe plaasmoorde deur die VF plus in die parlement opgehaal is.
Met staatskaping, liegkultuur, korrupsie, kankerbestuur, gierigheid, nepotisme, kapasiteitsgestremdheid en geweldadige betogings aan die orde van die dag by leierskorps en stemvee, is dit werklik n geldige afleiding dat n groot skroef los is met die moraliteit van die meerderheid Suid Afrikaners?

Bul ·

Lyk my vrou slaan is in van die manne se bloed. En daarna het hulle altyd ‘n lang verskoning met baie redes hoekom hul aksies regverdig is. Wonder hoe Manana en Romeo sou gevaar het teen mans van hul eie portuur ?

Raai Wie ·

Sal graag werkspermit van Zimbabwe se huishulp wil sien…hoekom neem hy nie plaaslike arbeid in diens nie.

Capeesh ·

Hulle moet die minimumloon betaal word en die parlementariers is bekend daarvoor om peanuts te betaal vir hulle huishulpe. Sou graag wou weet of hy haar UIF betaal en of hy ‘n kontrak met haar het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.