Nóg klagtes teen sportkwotas ingedien

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Werner Human van die AfriForum-afvaardiging tydens die oorhandiging van die klagte aan die Internasionale Olimpiese Komitee (Julie 2017). Foto: Verskaf

AfriForum en Solidariteit het vandeesweek amptelike klagtes teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport ingedien by die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se hoofkantoor in Lausanne, Switserland, asook by die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies (IAAF) se hoofkantoor in Monaco.

Die twee organisasies het in ʼn verklaring gesê die twee sportliggame is daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering polities in Suid-Afrikaanse sportwerksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras toenemend ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel. Politieke inmenging en rassediskriminasie word uitdruklik deur die IAAF en die IOK se reëls en regulasies verbied.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die regerende party in Suid-Afrika se propaganda meegebring dat die gebruik van raskriteria in die kies van sportspanne toenemend in Suid-Afrika as normaal gesien word, terwyl dit in wese abnormaal en strydig met internasionale reëls is. “Die indiening van dié klagtes is nie ’n kitsoplossing vir die probleme in SA sport nie, maar dien as ’n stewige begin vir ’n uitgebreide proses om internasionale steun te wen in die stryd teen die rasbeheptheid van die Suid-Afrikaanse regering en plaaslike sportliggame,” het Kriel gesê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Michel Schwarzwälder van die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies (IAAF) tydens die oorhandiging van die klagte. Foto: Verskaf

AfriForum en Solidariteit het onder meer gevra dat die IOK en die IAAF hul eie ondersoek loods rondom die implementering van rassekwotas in Suid-Afrikaanse atletiek en ander sporte. Voorts versoek die burgerregteorganisasie en vakbond dat hierdie twee sportliggame opdrag gee dat afstand gedoen word van die diskriminerende, rasgebaseerde beleid waardeur Suid-Afrikaanse sportlui benadeel word en dat die land se keuringsbeleide belyn word met internasionale standaarde en praktyk.

Volgens Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, oortree Atletiek Suid-Afrika spesifiek Artikel 3 van die grondwet van die IAAF. Dié artikel stel dit duidelik dat daar geen politieke inmenging in sport mag wees nie en dat daar geensins gediskrimineer mag word teen ’n atleet op grond van sy ras nie. “Dus ’n duidelike voorbeeld van ’n Suid-Afrikaanse sportliggaam wat internasionale reëls oortree,” het Maree gesê.

Hierdie week se indiening van klagtes sal later in die week opgevolg en afgesluit word met die indiening van ’n soortgelyke klag by die Internasionale Krieketraad se hoofkantore in Dubai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Suzie ·

Nou ja toe…. ons glo en vertrou dat julle hier ook reg sal kom soos met baie ander sake wat julle al hanteer en gewen het. Die vraag is egter….. sal ons regering hulle daaraan steur omdat hulle volgens hulself onaantasbaar is?

Johan. H. ·

Dis hoekom ek julle geldelik ondersteun… Ysters.!!!! Maar passop. julle moet oe agter julle koppe he tenalle tye..

Ken2 ·

Die president is om die oomblik besig om haatspraak teen ons aan te blaas, bell pottinger het dit ook gedoen en dis dinge wat NOU dringend aangespreek moet word en klagtes uitgekry moet word by internasionale organisasies. Fokus ook daarop asseblief.

Daan Erasmus ·

Stadig met die finansiële bydraes. Wat maak Oom Kakie daar. Hy gebruik jou geld om luuks daarheen te vlieg. Uit die winter te ontsnap. En waar het hy nog ‘n paar draaie op jou rekening gemaak.

Anoniem ·

Daan, laat weet asb of hulle eersteklas of besigheidsklas gevlieg het? Indien hulle egter “cattle class” gevlieg het soos die res van die volk, is die woord “luuks” nie gepas nie. Laat weet ook asb van die ander paar draaie waarvan jy praat?

Feite asb, nie spekulasie nie.

Eish ·

Dit is darem n riem onder die hart om die jonger geslag so passievol te sien oor reg en geregtigheid vir alle Suid Afrikaners!!Voor ek misverstaan word, die jonger geslag Afrikaanse kaukasiërs. Ek verhoog my maandelikse bydra vir Afriforum met R81.00 na die ATKV se sielskuddende herdefiniëring van hul bestaansreg.

Veritas ·

Soos ek in my kommentaar op die vorige berig genoem het, word die werk van Solidariteit en Afriforum hoog op prys gestel. Dit gaan egter dieselfde effek hê as wanneer ‘n mossie sy bekkie een keer per jaar teen ‘n diamantberg slyp. Die regering gee nie ‘n snars om oor wat die internasionale sport federasies en beheerliggame te sê het nie. ‘n Duidelike bewys hiervan is die Al Bashir saak. Soos die geval tans is, is Suid-Afrika nie meer die ‘liefling’ van die wêreld nie maar die ANC steur hulle maar min hieraan. As dit nie was dat Suid-Afrika ‘n Eden vir buitelandse beleggers was nie, was ons maar net nog ‘n derdewêreldse land met geen stabiliteit nie. Hierdie regering se onbevoegdheid om die beleggingssekerheid te handhaaf, is reeds besig om beleggers af te skrik maar daaraan steur die ANC regering hulle geensins nie. Solank die binnekring van die ANC en Zuma-adjudante hulself verder kan verryk, sal hulle aanhou om enige internasionale reëls te ignoreer.

Eish ·

Ek het nie n probleem met die sogenaamde mossie effek nie. Hoofsaak is, iets word deur begeesterde en passievolle Afrikaansprekende jongmense gedoen. Paar hofuitsprake het die regerende wanadministrasie al sleg op hul neus laat kyk en vir n paar benadeeldes groot verskil gemaak. Feit is wanneer daar n miljoen seesterre op die strand uitspoel, en iemand gooi hul terug in die see, een vir een, gaan die meerderheid steeds vrek. Die paar egter wat teruggegooi kon word, sê lewens is onherroeplik verander. Onthou vir Dawid en Goliat! Groot gif kom in klein verpakkings!

johnny_walker ·

wel veritas my ou maat , wat stel jy voor doen ons ? het jy enige alternatiewe voorstel ? ek het terloops n alternatief maar dit verg manne met bietjie rugraat , iets wat meeste blankes nie meer het nie , so dit los maar min alternatiewe oor tensy jy met n briljante plan voorendag kan kom

Henry ·

Gelukkig beïnvloed al die ou klakouse se temerasies nie Afriforum en Solidariteit se dapper pogings om die snert en onsin van die huidige regime, onder die aandag van die buiteland te bring nie.
Die ou lotjie negatiewes sal altyd met ons wees. Altoos op jag na al wat ‘n windmeul is…
:-)

Veritas ·

Johnny Walker en Henry, let asb op dat ek in my openingsparagraaf, erkenning gee aan Afriforum en Solidariteit se inisiatiewe. Wat ek probeer oordra, is dat die huidige regering nie belangstel in détente nie. Soiets bestaan nie in hul woordeskat nie. Hulle het deur geweld aan bewind gekom en sal slegs daardeur uit die kussings gelig kan word. Voordat ek aangekla word dat ek geweld propageer, wil ek dit graag duidelik stel dat dit nie so is nie. Ek glo in Ghandi se metode van passiewe weerstand. Ongelukkig gaan dit ‘n prys hê. Blanke sportlui sal moet saamstaan en op een of ander manier, nasionale sport boikot. Dit gaan ‘n geweldige opoffering verg veral gesien in die lig van sport as beroep. Talentvolle sportmanne en -vroue gaan die meeste daaronder ly. Ons as ondersteuners van die verskeie sportsoorte kan begin deur alle wedstryde op provinsiale te boikot. Hopelik sal dit die sportunies aanspoor om druk op die regering te plaas. Hoe hierdie druk uitgeoefen kan word is egter ‘n bespreking wat nie nou hier gehou kan word nie aangesien ruimte beperk is. Een ding bly ek egter oortuig van en dit is dat die regering hom nie gaan steur aan druk van internasionale sportliggame nie.

Henry ·

Buitelandse simpatie en ondersteuning vir die huidige regime en die rampokkerstaat wat hulle binne ‘n ommesientjie na 1994 gevestig het, het sedert oorle’ Mandela se afsterwe met rasse skrede in die spreekwoordelike hek geduik.

Invloedryke regerings se oogklappe vir nog ‘n tipiese Afrikastaat met sy gepaardgaande rommel oorbel het laaaaankal af geval. Hulle weet dat hierdie regime se perdekuttels nie langer as vye gesmous kan word nie. Afriforum moet geen geleentheid laat verby gaan om die WAARHEDE so wyd en gereeld as moontlik, te verkondig.

Om hul oortredinge van internasionale organisasies se voorskrifte – soos rassistiese sportkwotas wyer bekend te stel – kan bydra tot die blootstelling van sommige van die ANC se talle vergrype.

Grassie ·

Ek ondersteun Afriforum se poging maar ek het nie veel hoop daarvoor nie. Die ANC sal eerder deelname aan internasionale sport prysgee as om ‘n politieke standpunt te laat vaar. Hulle sal net sokker se voortbestaan beskerm en hul afvee aan ander sportsoorte se voortbestaan, veral waar witmense by betrokke is. Maar voorspoed aan Afriforum – al help die poging net om die mense in beskaafde lande te laat verstaan hoe sleg dit in ons land gaan is dit die moeite werd.

Kosie ·

Hulle kan maar die krieket los. Die IRK het reeds gese hulle gaan nie inmeng nie want dis ‘n huishoudelike kwessie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.