In die afgelope paar weke het talle kouefronte veral oor die suidelike deel van die land voorgekom en Suid-Afrikaners kan hulle staal vir nóg koue Sondag en Maandag.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê in ʼn verklaring reën word later hierdie naweek in die Kaapprovinsies verwag, hoewel dit ʼn matige hoeveelheid sal wees. Saterdag sal die grootste deel van die land sonnige weer en aangename temperature geniet, voor die koue Sondag sal toeslaan.
“’n Skerp daling in temperature tesame met winderige toestande in aanloop tot ʼn kouefront sal Sondag in die weste begin. Koue, wind en stortreën sal Maandag oor die suidelike helfte van die land versprei,” lui die verklaring.
“Droë en winderige toestande sal oor die sentrale en oostelike binneland voorkom wat kan bydra tot ʼn hoë risiko vir wegholveldbrande.”
Volgens die weerdiens word goedgedefinieerde frontale stelsels gewoonlik in Junie en Julie waargeneem, wat potensieel sneeu, ysige temperature en goeie reënval na die Kaap-provinsies kan bring.
“Die weerdiens wil spesifiek die publiek se aandag vestig op die verwagte kouefront wat Sondagmiddag oor die suidwestelike gedeelte van die Wes-Kaap sal aanland. Koue, winderige en reënerige toestande sal daarom laat Sondag oor die Wes-Kaap en die Noord-Kaap voorkom, voordat dit ooswaarts na die Oos-Kaap, Vrystaat en suide van KwaZulu-Natal sal versprei.
“Stormsterkwinde kan ook Sondag langs die kus tussen Plettenbergbaai en die Nelson Mandelabaai‑metro verwag word.”
Die weerdiens sê verder daar is ʼn moontlikheid van ligte sneeuval en/of ysreën Maandag oor die hoogliggende gebiede in die suide van die Noord-Kaap, die suidoostelike dele van die Vrystaat, die noordelike dele van die Oos-Kaap en die suide van Lesotho. Die sneeu sal na verwagting egter nie genoeg wees om ontwrigtend te wees nie.
Feesgangers wat volgende week na Bloemfontein reis vir die Vryfees, kan winderige en koue toestande verwag, met ʼn skraal moontlikheid van ligte reënval. Die dagtemperature sal na verwagting effens styg soos die week aangaan.
Fantasties!!!,