Nog kommer oor dokters wat strafregtelik vervolg word

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) het sy kommer uitgespreek oor die twee dokters wat strafregtelik vervolg word oor die dood van ʼn pasiënt en meen dit kan ʼn presedent skep.

Prof. Peter Beale, ʼn pediatriese chirurg, en dr. Abdulhay Munshi, ʼn narkotiseur, het Dinsdag in die landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklag van strafbare manslag. Hulle is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Die twee dokters word aangekla in verband met die dood van ʼn tienjarige seun. Zayyaan Sayed het op 11 Oktober ʼn laparoskopie by die Netcare Park Lane-kliniek ondergaan nadat hy lank met refluks gesukkel het. Beale het die operasie uitgevoer, terwyl Munshi die narkotiseur was. Zayyaan het later dieselfde aand gesterf.

Volgens die RGB het hy in Oktober inligting ontvang rakende beweerde onprofessionele optrede deur Beale waarna ʼn amptelike ondersoek gevolg het. Die ondersoek is reeds afgehandel en weens die erns van die klagtes wat ontvang is, het die RGB ʼn skorsingsverhoor gehou.

Die ad hoc-komitee van die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe het op 10 Desember opdrag gegee dat Beale se registrasie op die RGB-register opgeskort word hangende ʼn beoordeling deur die komitee vir professionele gedrag.

Volgens die RGB is hy egter van mening dat enige bewerings van onprofessionele optrede teen ʼn geregistreerde gesondheidspraktisyn hanteer moet word in ooreenstemming met die etiese reëls, norme en standaarde vir praktyk, asook toepaslike etiese gedragskodes, in plaas daarvan dat dit ingevolge die strafregstelsel behandel word.

Die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe is van mening dat die dood van ʼn persoon weens ʼn prosedure van terapeutiese, diagnostiese of palliatiewe aard anders hanteer moet word as ander onnatuurlike sterftes.

Indien ʼn wetlike benadering gevolg word, soos in hierdie geval, sal dit kommer by die Raad wek dat dokters eerder pasiënte op natuurlike wyse sal laat sterf as om in te gryp weens die vrees om strafregtelik vervolg te word.

“Die Raad respekteer die regte van individue om strafregtelik teen gesondheidsorgpraktisyns op te tree, maar doen ʼn beroep op die regsowerhede om die nodige omsigtigheid uit te oefen ingevolge die land se wette in die hantering van die dood van mense wat ʼn prosedure ondergaan het.”

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het vroeër gesê die twee dokters het ook regte en is onskuldig tot die teendeel bewys word.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, meen ʼn behoorlike ondersoek moet gedoen word om al die faktore in ag te neem wat ʼn rol gespeel het in die uitkomste in gevalle waar die dokters van nalatigheid beskuldig word.

“Dit is ook nodig dat hierdie faktore aandag kry om te verseker dat dit nie in die toekoms herhaal word nie,” het Coetzee gesê.

“Die insluiting van mediese kundiges by die ondersoeke is van sleutelbelang, aangesien hierdie professionele kundiges die nuanses verstaan van wat moontlik skeefgeloop het. Alle ondersoeke moet ook billik en deursigtig wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Siener ·

Dr’s het vir te lank weggekom met onbekwaamhede en onbevoegtheid. Dan word daar nie eers van Nalatigheid gepraat nie. Wat maak Dr’s nou so spesiaal dat hulle bo die wet verhewe wil wees? Die tyd is ryp on van Nalatige onbevoegde medisie ‘n voorbeeld te maak. Dan sal daar weer tyd gemaak word om oordentlik aandag te gee aan ‘n pasient. Nou gaan die oor geld want ‘n 2min besoek tel as ‘n 30Min besoek. Alles word afgejaag en dis waar foute inkom want die Dr wil graag sy R1m huistoevat vir die maand.

Patient ·

Ek stem volkome saam met jou. Meeste Dokter vrae ook nie mediese fonds tariewe nie. Dit se alreeds hulle chase net geld en nie volgense the belofte om die mensdom te help nie.

Thomas van Dalen ·

Hierdie is maar net die punt van die ysberg. Paramedici en verpleeg personeel is die volgende wat geteiken gaan word. Kyk maar na die praktyk van sg “ambulance chasers” in die VSA, wat prikureurs is wat uit gaan na insidente toe en die optrede van ambulans personeel krities evalueer vir enige foute, hulle volg tot by die hospitaal en dieselfde doen met die dokters en verpleegsters. Hulle stel dan eise ten bedrae van miljoene dollar teen die personeel in vir belaglikhede. Daar is alreeds soortgelyke praktisyns plaaslik.

Antjie ·

Strafreg spreek oortredings aan wat etiese kommittees nie kan bestraf nie. Etiese kommittees het egter hul mandaat om volledig te ondersoek en dan ook strafregtelik te VERWYS, gruwelik versaak. Slagoffers het die volste reg om strenger optrede (van alternatiewe ondersoekers) te vra. As dit by ʼn strafhof opeindig, spreek dit boekdele van enige vorige ondersoek se tekortkominge. Ongelukkig kan ons dalk net dankbaar wees hieroor indien alle ondersoekers vir die volle waarheid vertrou kan word.

Dokters behoort pasiënte te verwys indien ʼn (ander) spesialis beter chirurgiese vaardighede het. Hierdie tipe chirurgie word tipies deur chirurge gedoen was in gastroenterologie spesialiseer, en nie eens deur enige chirurg nie. Het die betrokke pediater sulke ervaring? SAMA kan help om dit te verduidelik. Anders dink ek die etiese kommittee het alwéér die gemiddelde, sleg gekwalifiseerde geneesheer as verwysing gebruik. Skorsing is boonop ʼn “smoking gun”, soos die Amerikaners dit nou ook dikwels noem.

Ek bly aan die kant van regverdigheid vir almal.

Sakkie ·

Stem dat Dr’s ook strafregtelike verantwoordbaar moet wees vir hul foute. Hulle is nie verhewe bo die wet nie.

PieterJohannes ·

Die waarheid is dat te veel dokters wegkom met growwe nalatigheid en dat die mense in die mediese wêreld mekaar beskerm. Dit is so maklik om toe te smeer want die gemiddelde persoon se mediese kennis is net te skraps om selfs agter te kom daar foute gemaak word. Al die hoë mediese terme maak dit ook nie makliker nie. Daar is in elk geval te veel geheimhouding betrokke en alles word in die oortreffende trap aan die arme pasiënt oorgedra. Waarom wil die RGB nou keer dat dokters strafregtelik vervolg moet word? ‘n Mediese dokter is die enigste beroep wat ek van bewus is wat nooit enige foute maak nie, en nog steeds volle betaling ontvang selfs al het dit wat hy gedoen het, nie geslaag nie, en selfs ‘n persoon se lewe gekos het.

Meraai ·

My man is 3 jaar terug amper dood agv ‘n dokter se nalatigheid, ons is na prokureurs toe om te help met ‘n saak teen die dokter maar niemand was bereid nie, hulle het wel gesê ons saak is sterk maar die kostes gaan baie wees. So weereens kom hy weg met sy gemors en ek sit met ‘n man wat sy werk verloor het en nie kan werk kry nie asg van die dokter se nalatigheid. Ons dokters dink hulle is heilig en kan met moord wegkom ek is bly daai ouers neem stappe.

RN ·

Eerstens Siener nou wat maak jou so spesiaal om jou mond in die algemeen te spoel terwyl net 2 Dr’s in die berig genoem word. Die R1m is opgedeel in 47% belasting en nog 11% aan assuransies.
My vrou is n Dr en mense soos julle vat haar na die mediese raad toe omdat sy nie oor die foon voorskrifte wil doen nie, want doen sy dit en die behandeling is verkeerd moet sy nou strafregtelik aangekla word.
As jy iets teen n Dr kan bewys en hy word skuldig gevind dan het die reg mos sy gang gegaan maar julle dink Dr’s maak geld, kom ek se jou hier is ambagsmanne wat meer geld maak as my vrou en sy is besig. So waar is die berigte en hof uitslae oor geboue ens. wat in mekaar val oor swak vakmanskap.
Hou op veralgemeen en bespreek die berig of is julle foutloos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.