Nóg korrupsieklagtes teen hoofverkeersbeampte

Argieffoto

Argieffoto

Die hoofverkeersbeampte van Wolmaransstad in Noordwes, wat in hegtenis geneem is vir korrupsie, verskyn na verwagting Vrydag in die Balfour-landdroshof in Mpumalanga op nóg ʼn aanklag van bedrog.

Windy Judas Mahlangu (46), hoofverkeersbeampte van die Maquassi Hill-munisipaliteit, het Woensdag in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn nadat hy verlede Vrydag in hegtenis geneem is op aanklag van bedrog. Mahlangu en Kobus Jordaan, ʼn vragmotoreienaar, het glo saamgespan om die munisipaliteit uit R540 000 in onbetaalde lisensieskyfies en verkeersboetes te bedrieg.

Mahlangu het glo vervalste lisensieskyfies vir Jordaan se 39 vragmotors uitgereik en glo ook verseker dat Jordaan nie verkeersboetes betaal nie. Jordaan (49) is ook in hegtenis geneem en is op borgtog van R500 vrygelaat weens sy swak gesondheid.

“Mahlangu is Woensdag ná sy hofverskyning weer in hegtenis geneem op aanklag van bedrog wat glo in Mpumalanga gepleeg is,” het lt. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, Vrydag gesê. “Die Balfour-polisie het hom in hegtenis geneem skaars nadat hy uit die Wolmaransstad-hof gestap het. Dié aanklag hou ook verband met verkeersboetes. Hy is tans agter tralies.”

Die bedrogsaak in Wolmaransstad is tot 16 November uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.