Nog koue kom (maar nog g’n sneeu in Gauteng verwag)

‘n Kouefront word teen Donderdag verwag. (ArgieffFoto: Jorge Guillen/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het berigte op sosialemediaplatforms verwerp dat daar vandeesweek wydverspreide sneeu in alle provinsies verwag word, ook in Gauteng.

Die weerdiens sê hy het verskeie navrae daaroor ontvang, ook navrae oor of sneeu in onder meer Pretoria en Johannesburg verwag word. Die weerdiens het die berigte as fopnuus bestempel.

“As die gesaghebbende stem oor die weer en waarskuwings, verwerp ons dié bewerings,” sê Jacqueline Modika, ʼn senior voorspeller verbonde aan die SA Weerdiens.

Sy sê ʼn kouefront gaan die land wél na verwagting teen Donderdag bereik.

Modika sê dit gaan na verwagting lei tot sneeu oor die hoërliggende dele van die Wes-Kaap, asook oor die westelike en suidelike hoogliggende gebiede van die Noord-Kaap.

“Dit gaan na verwagting versprei na die hoogliggende dele van die Oos-Kaap en die Drakensberge.”

Volgens die weerdiens gaan die weerstelsel Donderdag lei tot uiters koue toestande in die Wes-Kaap en die Noord-Kaap, waarna dit Vrydag na die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat versprei.

Oor die noordoostelike provinsies sal dit na verwagting betreklik warm bly.

Pretoria kan teen Saterdag ʼn minimum temperatuur van 8 °C en ʼn maksimum van 21 °C verwag. In Johannesburg word ʼn minimum van 7 °C en ʼn maksimum van 17 °C Saterdag verwag. In Polokwane word ʼn maksimum van 23 °C en ʼn minimum van 8 °C oor die naweek verwag.

In Kaapstad daal die kwik Vrydag tot ʼn minimum van 7 °C, met ʼn maksimum van 11 °C. Teen Sondag styg die maksimum temperatuur in die Moederstad tot 15 °C.

In Bloemfontein word ʼn minimum temperatuur van -2 °C Saterdag verwag en ʼn maksimum van 12 °C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Maritza ·

Jou lewe moet redelik saai wees as jy tyd het om te sit en nonsens te versprei

Willem ·

As jy sien wie in beheer is van SA weerdiens kan jy verstaan hkm die voorspellings so pateties is!!!!!!!

Marius Gerhardus ·

Wie kan vandag se weervoorspellers glo? Ondervinding my geleer hulle is darem net so 150% van die tyd verkeerd. Instansie wat gerus kan sluit. Dit dien geen doel nie. Sorry….my opinie.

piet ·

Ek gebruik https://www.yr.no/en. Baie goed volgens my ondervinding (as jy Kaapstad se weer in ‘n groot mate korrek tot op die uur kan voorspel, dan mag jy maar).

Prikkie ·

Ek stem saam met Piet. Die ergste vir my is dat YR.NO nie NABY Kaapstad gesetel is nie, maar hulle voorspellings is meestal in die kol.

Temperature soms ‘n bietjie uit, maar dit is ook te verstane.

piet ·

Duwweltjie – Jy’s nogal reg wat die temperature aanbetref, hulle voorspel gewoonlik so 1 of 2 grade laer maar dan is die Kaapse metropool ‘n groot gebied en as jy byvoorbeeld in die noordelike voorstede woon, kan die temperatuur maklik effe warmer wees. Andersins is hulle meestal in die kol met reenval, wind ensovoorts. Eintlik baie betroubaar.

Estelle ·

Sjoe, maar ons mensdom is darem maar lief daarvoor om fopnuus te versprei

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.