Nóg lande gesluit vir SA-reisigers

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Duitsland, Italië, Israel en Singapoer weier nou ook dat reisigers van onder meer Suid-Afrika hul grense oorsteek, nadat dit bekend geword het dat ’n nuwe variant genaamd B.1.1.529 hier bevestig is.

Dit blyk egter te laat vir Israel te wees wat ’n kort ruk gelede bekend gemaak het dat hy nou ook die nuwe variant by ’n pasiënt opgespoor het. Die betrokke persoon het glo onlangs vanuit Malawi na Israel gereis.

Die Europese Unie (EU) gaan intussen ook voorstel dat alle reisigers uit Suider-Afrika verbied word weens vrese oor die nuwe variant, het Ursula von der Leyen, president van die EU, Vrydag gesê.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Jens Spahn, waarnemende minister van gesondheid in Duitsland, het op sy beurt gesê dié land se reisverbod op reisigers vanuit Suid-Afrika en “waarskynlik sy buurlande” tree reeds vanaand in werking.

Duitse burgers sal die land vanuit die geraakte lande kan binnegaan hoewel hulle by hul aankoms 14 dae lank in sal kwarantyn moet deurbring. Dié reël geld ook ingeënte Duitse burgers.

“Die laaste ding wat ons nou nodig het, is ʼn nuwe variant wat nog meer probleme veroorsaak,” het Spahn gesê te midde van reeds toenemende gevalle in Duitsland.

Die Italiaanse regering het intussen besluit om “die pad van maksimum versigtigheid te volg” en het voorlopig sy grense vir reisigers van Suid-Afrika, Lesotho, Botswana, Zimbabwe, Namibië, Eswatini sowel as Mosambiek gesluit.

Australië het intussen gewaarsku dat hy ook moontlik sy grense gaan sluit, maar ondersoek nog die moontlike risiko’s verbonde aan die B.1.1.529-variant.

Rand val, toerisme reageer

(Argieffoto)

Die rand het oornag tot sy laagste vlak in meer as ʼn jaar gedaal en verhandel nou teen R16,20 teenoor die dollar, nadat dit bekend geword het dat ’n nuwe variant in Suid-Afrika bevestig is.

Ook die olieprys het gedaal namate markte reageer op die nuus.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) sê die gasvryheidsbedryf het met “ongeloof en teleurstelling” op Brittanje se reisverbod gereageer aangesien “die Verenigde Koninkryk een van Suid-Afrika se grootste inkomende internasionale markte is en ons juis nou die piekfeestydperk binnegaan”.

Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, sê die verbod gaan nie net Britse reisigers ontmoedig om Suid-Afrika te besoek nie, maar ook ander terugslae inhou namate ander sleutelbronmarkte die VK se leiding neem en al meer reisbeperkings instel.

Die Vereniging van Suider-Afrikaanse Reisagente (Asata) het die Britse reisverbod as ’n “massiewe terugslag” vir die Suid-Afrikaanse reisbedryf bestempel.

“Die nuwe verbod is ʼn impulsiewe reaksie van die Britse regering wat lugdienste, hotelle, reisondernemings en reisigers in ʼn baie moeilike situasie plaas,” sê Otto de Vries, uitvoerende hoof van Asata.

Volgens die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) is dit heeltemal te vroeg om te kan sê wat die impak van hierdie nuwe variant sal wees.

“Die VK is ons sleutelbronmark en die aankondiging is verwoestend vir die toerismebedryf, nie net weens die impak op Britse reisigers wat na Suid-Afrika op pad is tydens ons spitsseisoen nie, maar ook weens die boodskap wat dit stuur na die res van die wêreld,” sê David Frost, uitvoerende hoof van Satsa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johanncb ·

Is Suid-Afrika die enigste land waar hierdie “nuwe variant” so skielik sy verskyning maak? Of is ons nou uniek?

Andre ·

Hierdie outjie se naam word ook net al langer, dit klink al soos ‘n Windows update.

madels ·

Sjoe, dit gaan nou baie probleme vir baie mense skep, maar wat ander oplossing is daar?

Thom ·

VK , Duitsland , Singapoer , Japan , Die EU en ander om te volg ; mooi klompie sou ek dink __ ongelukkig is julle denke nie so groot as die probleem nie .

Anoniem ·

Hi maroela ek is besig om skermskote te maak van wat hier toegelaat en uitgevee word gaan nou my selfde kommentaar plaas en kyk wat gebeur

Anoniem ·

Snaaks die hele wêreld neem die ernstig op maar die Google /Facebook spesialiste hier weet almal beter

JD ·

Europa het 3 weke gelede baie streng inperkings ingestel oor hulle positiwiteitskoerse. Nou dat dit wêreldwyd versprei het hardloop almal terug na hulle lande en plaas Suid Afrika op allerhande reisverbode, asof dit ‘n SA unieke variant is. Enigste rede hoekom ons dit hier optel is omdat SA een van die beste navorsingsinstellings en kenners het wat dit kan doen. Geen ander land in die wêreld het al nuwe variante identifiseer nie, behalwe die Beta variant.
Sleg dat ons so afhanklik is van buiteland vir toerisme, en SA wat as almal se swartskaap hanteer word omdat ons eerste die variante identifiseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.