Nóg ‘leeubeen-smokkelaars’ vas

Nog vier mense is aangekeer vir die beweerde smokkel van leeubeendere. (Foto: SA Polisie)

Die Valke het nóg vier mense in hegtenis geneem nadat hulle aanvanklik toegeslaan het op vier verdagtes wat leeupote probeer verkwansel het.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, het gesê die mans is op Mabule, naby die Botswana-grens in Noordwes, aangekeer.

Die eerste verdagte is by sy huis gevang en is ook in besit van verskeie leeubeendere gevind. “Die ondersoekspan het daarna nog drie verdagtes in hegtenis geneem wat na bewering leeubeendere by hom gekoop het,” het Rikhotso gesê.

Die leeu is glo in Botswana doodgemaak en die karkas is na bewering na Suid-Afrika gesmokkel om hier na ʼn koper te soek.

Die vier verskyn na verwagting Donderdag in die landdroshof in Mahikeng, nadat hulle van oortredings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit (Nemba) aangekla is.

Die groep se inhegtenisneming volg kort op dié van nog vier verdagtes wat vroeër vandeesweek in Rustenburg vasgetrek is.

Die leeupote waarop vroeër vandeesweek beslag gelê is. (Foto: SA Polisie)

Die Valke het inligting gekry oor die vermeende smokkelaars wat glo op soek was na ʼn koper vir vier leeupote. Die daaropvolgende ondersoek het Maandag tot ʼn klopjag gelei waar die verdagtes die pote aan ʼn beampte, wat hom as ʼn koper voorgedoen het, vir R300 000 probeer verkoop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.