Nog lyke in myn gevind; 11 vas

Argieffoto

Elf mense is in hegtenis geneem nadat nog vier liggame Donderdag uit die Eland-skag van ʼn myn in Welkom in die Vrystaat gehaal is.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, die Vrystaatse polisiekommissaris, het gesê die elf mense word daarvan aangekla dat hulle by onwettige mynbedrywighede betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is Maandag na die myn ontbied nadat liggame ondergronds gevind is. Dit volg ná ʼn ondergrondse ontploffing verlede week Donderdag in die myn. Die myn se veiligheidsmaatskappy het ondersoek ingestel en sedertdien is 29 liggame na die oppervlak gebring.

Tsumane het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen. “ʼn Span ondersoekkenners is geïdentifiseer wat die ondersoek na hierdie voorval en ander onwettige mynvoorvalle sal lei,” het hy gesê.

“Saam met die mynbestuur het ons maatreëls in plek gestel om die voortsetting van onwettige mynbedrywighede stop te sit. Ons sien hierdie tragedie in ʼn baie ernstige lig en daarom is ons betrokke by uitgebreide operasionele en praktiese maatreëls om onwettige myners te keer.”

Kol. Thandi Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die sterftes verbind word met die ontploffing wat in ʼn ventilasieskag plaasgevind het. “Die meeste van die liggame wat deur die mynsekuriteit en reddingspanne gevind is, het naamplaatjies met kontakbesonderhede en nasionaliteite op. Die oorledenes wat van naburige lande afkomstig is, moet nog geïdentifiseer word,” het Mbambo gesê.

“Die liggame wat al heeltemal ontbind het se identiteit sal deur middel van DNS-toetse vasgestel word. Twee van die oorledenes is tot dusver deur familielede geïdentifiseer en teruggeneem na hul land van herkoms. Die elf mense wat in hegtenis geneem is, is aangekla van onwettige mynbou, betreding en diefstal van myneiendom. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Scalla ·

Lyke terug geneem na land van herkoms, gooi die skagte saam met die lyke toe, wat soek hul in elk geval daar,

A ·

Hoekom myn hulle nog daar? Sou die myn nie alles klaar gemyn het voor hulle besluit om die skag toe te maak nie?

Paul ·

Die skag is deel van ‘n myn van Harmony.

Besef jy hoe is dit daar ondergronds? Daar is by talle myne, veral die ouer myne, ‘n magdom ou skagte en tonnels wat soos ‘n web verbind is. Die onwettige ouens kom in by ou ingange, of soms kom hulle sommer in by die operasionele myn se hysbak wat die werkers laat sak deur iemand om te koop.

Geen myn word in elk geval ooit heeltemal “klaar gemyn” nie. Die besluit oor wanneer om op te hou myn word gemaak ten opsigte van of die opbrengs nog die koste regverdig. Onwettige ouens het baie minder koste, deels omdat hulle geen veiligheidsmaatreels hoef te neem nie, so hulle kan laergraadse erts myn en steeds geld maak daaruit.

Johann ·

Ons verstaan seker nie weer nie. Die zamma-zammas ( jip…Afrika het n mooi naam vir als, selfs steel van myne), is n praktiese toepassing van radikale ekonomiese transformasie. Hulle was als behalwe onwettig daar? Hulle het bloot gevat wat hul voorvaders gese het hulle toekom. Dis mos ALMAL se grond…is dit nie? En nou gaan daar n SKAG vil geld spandeer word om die arme burgers van Afrika terug te stuur na hul “land van afkoms”, en te ween en huil oor die broodwinners wat weg is en en en en.

H.A. ·

Dagvaar die myn ook. Hulle het alles toegelaat, nou het daar iets groots gebeur en al die base spring nou skielik na ontskuldig se rugting. Korrupsie het geen keer nie.

janneman ·

As jy nog nie die intimidasie van sekuriteit, mynbestuur en selfs polisie deur hierdie bendes ervaar het nie, sal jy nie verstaan dis byna onmoontlik om hierdie bedrywighede stop te sit nie. Jy kan dagvaar soveel jy wil, polisie ingesluit, jy sal niks bereik nie. Daar is net een manier om dit te stop, en dis om te verhoed dat meer mense in gaan, en te hoop die wat binne is, weldra op eie stoom sal uitkom, of die hele myn operasie weer wettig te hervat en dan toegangsbeheer toe te pas tot die myn veilig en vry van enige mense verklaar kan word. Dink maar aan daai kostes……..Solank as daar slegs 1 persoon binne is, mag die ingang of uitgang nie afgeseel word nie, want niemand mag wettig iemand se lewe neem nie, en dit is n internasionale wet, nie net in SA geldig nie

Paul ·

Ja nee, janneman is reg, behalwe dat ou myne nie regtig effektief toegangsbeheer kan toepas nie – daar is ‘n hele labirint tonnels daar onder wat vanaf ander verlate myne aansluit by werkende myne.

Dis interessant om te sien hoe mense wat duidelik niks van die saak weet nie, allerhande voorskrifte het.

Willem v R ·

Dit grief my as daar verwys word na hierdie skelms as “onwettige mynwerkers”. As ek na-ure by iemand se juweel winkel gaan rondkrap, is ek n onwettige jewelier. Of as ek skelm rondkrap in iemand se huis, is ek n onwettige inwoner. Hierdie mense is skelms en diewe wat grootliks van Zimbabwe af kom en onwettig in ons land is. Noem hulle wat hulle werklik is.

Hoender ·

JA TOE en almal wat nou die ARME MYNERS So jammer gekry het wat se julle nou? Ek is al so keelvol vir Suid Afrikaners wat altyd part vat vir die ‘hongeres’ ongeag die feit dat hulle steel en hulle met onwettige bedrywighede besig hou. So vreemd altyd dat dit dieselfde mense is wat nie ‘n hand sal uitsteek na armes toe nie, maar wat ander sal teregwys as hulle WAAG om hulle eie eiendom te beskerm teen DIEWE! DEPORTEER ONWETTIGE IMMIGRANTE .. waar kom jy daaraan om illegal in ‘n land te wees EN dan nog ‘n kriminele oortreding te pleeg ten te verwag jy moet niks oorkom nie???

Go back ·

Op wie se rekening word die DNS toetse gedoen want ek verstaan dit is BAIE duur toetse daardie? Nou word dit op onwettige immigrante gedoen, MY belastinggeld wat gemors word op KRIMINELE!! Hoekom bly hulle nie in hulle lande nie, hulle het gestem vir daardie regerings . hoekom is hulle hier?

Bertie ·

Waarom nog geld mors op hulle, het nie daar gehoort nie los hulle daar en gooi die skag toe.

Eish ·

Dis groot geld wat hier praat en die korrupsievlak loop van onder tot bo uit. Jy betaal tussen R20 000 en R40 000 aan n “supervisor”om vir n jaar onwettig te myn. Dit sluit in n fooi van R5000 om af te gaan. Die hysbakoperateur maak dus n emmer vol geld. Skofbase kyk anderkant want die beursie word volgehou. Polisie word betaal ten einde nie te vervolg nie en n streep mynamptenare. Indien jy dit maak vir n jaar, kan jy tussen R250 000 en R400 000 skoon in jou sak sit na uitgawes soos kos en uitkomfooi. Natuurlik kan dit gestop word maar die geld oordonder die wil. Self vir gewone wettige myn werk betaal jy tussen R2500 en R6000 om jou posisie te verseker. Alle opleidings sertifikate benodig is te koop. Die hele my bedryf het in totaliteit in korrupsie verval.

CAV ·

So wie koop hierdie ertse by die skelms ?. Daar is ook mos n proses wat gevolg moet word deur ” handelaars ‘. Ketting reaksie – . Daar behoort baie meer as 11 in hegtenis te wees

Sputnik ·

Dié onwettige bedryf is al so oud soos die berge (of eerder, myne). Ek staan verstom oor mense wat sê “gooi die skagte toe”. Besef hulle enigsins wat só ‘n stap ‘n myn gaan kos? Aan die ander kant is dit ‘n kwessie van oorlewing – die mense is op aarde en wil ‘n bestaan maak onder moeilike en gevaarlike omstandighede. Hulle kon waarskynlik gekies het om motorkapers, inbrekers, struikrowers en selfs plaasmoordenaars te word (behalwe dat mens wonder of hulle met lg. nie dan indiensgeneem is nie). Tog voel ek dat die herwinning, identifisering en terugstuur van die lyke nie op ons as belastingbetalers se skouers moet rus nie. Los dit net daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.