Nóg lyke in myn gevind, ‘leier’ vas

Argieffoto

Nog vyf liggame is uit die Eland-skag buite Welkom in die Vrystaat gehaal.

Maroela Media het vroeër berig die polisie is na die myn ontbied nadat liggame ondergronds gevind is. Dit volg ná ʼn ondergrondse ontploffing vroeër vandeesmaand in die myn. Die myn se veiligheidsmaatskappy het ondersoek ingestel en sedertdien is 34 liggame na die oppervlak gebring.

Die polisie in Welkom se ondersoek duur voort. Die liggame wat opgespoor is, het reeds begin ontbind. Sommiges het ook naamplaatjies gedra. Brig. Motantsi Makhele, provinsiale woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, het gesê die oorsaak van die ontploffing is steeds nie bekend nie en sal deel uitmaak van die polisie se ondersoek.

Volgens Makhele is daar Maandag ʼn klopjag op ʼn huis in Robertostraat in Welkom gedoen en 19 mans wat van Lesotho afkomstig is, is deur die polisie vir ondervraging ingeneem. “Ná verdere ondersoek het ons nog ʼn huis in Tiptolstraat in Welkom besoek en daar is beslag gelê op kospakkies wat ons glo aan onwettige myners verkoop of afgelewer sou word. Van die kos was byna verrot,” het Makhele gesê.

Die eienaar van dié huis, ʼn 39-jarige man, is in hegtenis geneem nadat daar ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy besit gevind is. “Hy is glo die leier van die 19 mans,” het Makhele gesê.

Hy sal Woensdag in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn onwettige vuurwapen.

Maroela Media het vroeër berig 11 mense is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Lt. Genl. Lebeona Tsumane, Vrystaatse polisiekommissaris het gesê die 11 mense word daarvan aangekla dat hulle by onwettige mynbedrywighede betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.