Nog maande voor gru-moordsaak weer in hof draai

‘n Foto van Siphokazi Booi. (Foto: Action Society)

Dit is reeds tien maande sedert Siphokazi Booi (27) se verkoolde liggaam in ʼn asblik langs die Mbekweni-spoorlyn in die Paarl aangetref is. Haar familie sal egter nou nóg langer moet wag op antwoorde rakende haar gru-moord.

Die Paarl-streekhof het die moordsaak teen Sithobele Qebe, Booi se kêrel, tot Desember uitgestel weens ’n uittredende landdros.

Qebe is ’n maand voor die moord op borgtog vrygelaat nadat hy in hegtenis geneem is in verband met haar beweerde aanranding.

Kaylynn Palm, mediaskakelbeampte by Action Society, sê dit is jammer dat die saak eers oor maande sal hervat. “Maar die familie is tevrede dat die verdagte tot dan agter tralies sal bly. Om elke dag ’n oortreder van misdaad te sien, dra geweldig by tot die trauma van slagoffers van geweldsmisdade.”

Action Society het vroeër ʼn regspan aangestel om die moordsaak dop te hou. Die drukgroep het ook vandeesweek die moordtoneel saam met Booi se familie besoek.

Booi se geskende en verkoolde liggaam is in September verlede jaar slegs 100 meter van Qebe se huis naby die Mbekweni-treinstasie by ’n stortingsterrein in die Paarl gevind. Haar liggaam was opgekap, in ’n asblik gestop en toe verbrand.

Qebe se huis en motor is destyds deur gemeenskapslede aan die brand gesteek nadat hulle van sy inhegtenisneming te hore gekom het.

Siphokazi se suster, wat haar sedert die ouderdom van vier grootgemaak het, het aan Action Society gesê wat met haar suster gebeur het, “was boos en onmenslik”.

Sy het ook vertel dat die wonde elke keer van vooraf oopgekrap word wanneer sy by die moordtoneel verbystap en wil hê Qebe moet nooit weer uit die tronk kom nie.

Action Society besoek die moordtoneel. (Foto: Action Society)

Action Society besoek die moordtoneel. (Foto: Action Society)

Action Society besoek die moordtoneel. (Foto: Action Society)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.