Nóg meer plekke in Limpopo geraak deur bek-en-klouseer

Kaart dui die plekke aan waar bek-en-klouseer aangemeld is binne ʼn ongeveer 100 km x 100 km-gebied in Limpopo (Grafika verskaf/ANA)

Die getal plekke in Limpopo waar bek-en-klouseer bevestig is, het tot 16 toegeneem sedert die uitbreking laat in 2019 aangemeld is, aldus die departement van landbou.

“Die nuwe gevalle beteken nie dat die uitbreking aktief besig is om te versprei nie,” het die departement in ʼn verklaring gesê. “Dit is ʼn teken dat die siektebeheerpogings doeltreffend is om nuwe plekke te identifiseer nadat die siekte aanvanklik in September en Oktober 2019 van spesifieke veeveilings versprei het.”

Meeste van die plekke, almal in Limpopo, is gevind weens die voortgesette ondersoeke van die bek-en-klouseer-uitbreking. Dit beteken dat alle persele met verbintenisse aan positiewe liggings en spesifieke veilings opgevolg en getoets is. Meer as 130 punte is geïdentifiseer en die voorlopige kwarantyn is opgehef op 57 eiendomme waar geen tekens van bek-en-klouseer opgespoor kon word nie.

Alle eiendomme waar die siekte bevestig is, is onder kwarantyn geplaas en bewegingsbeperkings is in plek gestel. Prosedures is ook gefinaliseer vir diere op die betrokke persele om by spesifieke abattoirs geslag te word waar spesiale reëls die verspreiding van bek-en-klouseer sal voorkom.

“Bek-en-klouseer het nie ʼn invloed op mense nie. Vleis en melk van die betrokke vee is dus veilig vir menslike gebruik, maar die vervoer van die produkte moet beheer word, aangesien dit steeds die siekte na ander gesplete hoefdiere kan versprei.”

Die departement, in samewerking met veeartsenydienste in Limpopo, het bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur oor simptome en bioveiligheidsmaatreëls. Altesaam 14 veldtogte is reeds in 14 dorpe in Molemole en tydens twee landboudae afgehandel.

“Die departement moedig steeds alle eienaars van lewende hawe aan om streng bioveiligheid toe te pas. Enige tekens van bek-en-klouseer moet by die naaste veearts aangemeld word. Persone word ook aangeraai om steeds die beweging van gesplete hoefdiere op hul plase te beperk. As verskuiwing nodig is, moet die kopers aandring op gesondheidsverklarings wat deur die verkoper se privaat veearts uitgereik is waar die gesondheidstatus van die diere en die plaas van oorsprong aangedui word.”

Verdere besonderhede is beskikbaar op die departement van landbou se webwerf en in die kennisgewing wat in die Staatskoerant gepubliseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KO ·

Onbevoegtheid van department van landbou word onderstreep, hier is hongersnood oppad.

Kootjie ·

Aag wat moet wees sal wees!! Bek en klouseer..witseer keel…. enige gogga ding… het sy tyd om tevoorskyn te kom!! Mag nie en moet nie depresief of swartgallig wees nie!! Hoe se daardie baie lieflike liedjie van die vroee jare? What ever will bee WIlL be!!!

PJC ·

Solank grensbeheer nie na wense is nie sal die probleem voortduur.

Sarel P ·

Dit is nou tyd dat Limpopo in kwarentyn geplaas word en die regering sy werk behoorlik en intyd verig. Hulle was reeds lankal gewaarsku dat swak polisieering en die departemente verantwoordelik se apatiese manier van dink en doen, ook nie doen, katestrofiese gevolge sal he. So word 7 an der provinsies nou gyselaar gehou en ly die landbouers en publiek weereens skade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.