Nog meisies getuig in AB Xuma-saak

Argieffoto

Die hooggeregshofsitting by die Palm Ridge-landdroshof het Donderdag gehoor hoe ʼn veiligheidsbeampte van AB Xuma Primary School, Johannes Molefe, na bewering twee klein meisies op die skool se perseel seksueel aangerand het.

Staatsaanklaer Jacki Steyn het ʼn sewejarige graad 2-leerling geroep om te getuig. Sy was in graad 1 toe sy by die skool aangeval is. Die meisie het aan die hof gesê die beskuldigde, Mkhulu (of “oom”, soos Molefe aan die kinders bekend gestaan het), het onbehoorlik aan haar geraak. “Dit was middagete toe Mkhulu my geroep het en my vriende het geëet en ek het na hom toe gegaan. Hy het daarna aan my privaat deel gevat,” het die meisie, wie se identiteit weerhou word, gesê.

Molefe se hofsaak het Woensdag begin. Hy staan tereg op drie aanklagte van verkragting en 11 aanklagte van seksuele aanranding wat spruit uit voorvalle in 2017. Hy is sedert Oktober 2017 in aanhouding.

“Ek hou nie van hom nie, want hy het op ʼn slegte manier aan my gevat met sy hande,” het die meisie aan die hof gesê. “Ek het dadelik vir die juffrou gaan vertel wat gebeur het. Sy het gesê hy moet ophou daarmee. Ek het toe na Mkhulu toe gegaan en vir hom gesê die juffrou het gesê hy moet ophou, en hy het gesê dis oukei.”

Die sewejarige het later aan die hof gesê die onderwyseres het haar aangesê om nie vir haar ma te vertel wat Molefe gedoen het nie.

Luka Xoxo, vir Molefe, het gesê sy kliënt ontken alles wat die meisie sê.

Steyn het daarna ʼn agtjarige graad 2-leerling geroep om te getuig. Sy het aan die hof gesê sy was by haar maats toe Molefe aan haar boude en borste gevat het. Sy het gesê Molefe het haar gestuur om vir hom kos te gaan haal voor hy haar aangerand het. Sy was baie emosioneel toe sy moes verduidelik wat Molefe nog gedoen het.

Die saak is tot 19 November uitgestel. Molefe bly in aanhouding.

Lees alle vorige berigte oor die AB Xuma Primary School op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wonder maar net ·

Dis beslis nie ń goeie scenario nie. Ek wonder maar net oor die 8 jarige se “borste”. Hoop nie hier word stertjies bygelas wat nie gegrond is sodat die aangeklaagde deur tegniese punte vrygeskel word nie.

Asjas ·

Ai, die onkunde van sommige mense se kommentaar …
Maar dit beteken ook dat jy is gelukkig dat jou paadjie nog nooit met ‘n pedofiel gekruis het nie.
Ek het ook nie borste gehad nie en tog het dit nie die oom ook gekeer om daar te vroetel nie.

Johan ·

Hy is n vark en hy moet lewenslank tronk toe gaan. Dit is al wat saak maak. Stertjies of nie stertjies…

LA ·

Ek hoop dat die onderwysers wat so die kinders vertel het om stil te bly saam die man sy vonnis gaan sit….

MS ·

Ek stem, die onderwysers wat die kinders aangese het om nie hul ouers te vertel nie moet ook aangekla word. Hulle is net so skuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.