Begroting: Nóg miljarde vir SAL, Eskom

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die regering sal oor die volgende drie jaar meer as R16 miljard bestee om die sukkelende Suid-Afrikaanse lugredery te help om sy skuld te delg.

Dié geld sluit in sowat R2 miljard wat bestee is deur die maatskappy in sakeredding te plaas, het die nasionale tesourie verduidelik, kort voor Tito Mboweni, minister van finansies, sy 2020‑begrotingsrede Dinsdagmiddag gelewer het.

Die regering verwag boonop dat nog meer geld in die nabye toekoms nodig sal wees om die koste van herstrukturering te dek. “Dit is ons almal se opregte wens dat hierdie herstruktureringsproses sal lei tot ʼn volhoubare lugredery wat nie ʼn las op die fiskus is nie,” het Mboweni Dinsdag gesê.

Mboweni het ook aangekondig dat die regering sowat R43 miljard in die mediumtermyn aan Eskom sal gee.

Politieke partye het heftig gereageer op die reddingsboei aan die SAL.

Argieffoto

“Die voorsiening wat weereens gemaak word vir ʼn reddingsboei vir die SAL is onaanvaarbaar en onbekostigbaar. Die redery moet nou geprivatiseer word aangesien dit die belastingbetaler jaarliks miljarde rande kos sonder om enige voordeel daarvoor te wys,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Die DA sê die sakeredding waarin SAL verlede jaar geplaas is, was ʼn ooglopende klugspel deur die ANC in ʼn poging om die redery van likwidasie te red en beheer daarvan te behou.

Dit volgens Alf Lees, ʼn DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor). Hy sê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het dit die afgelope week duidelik aan Skoor en die parlementêre komitee oor openbare ondernemings gemaak dat hy wat Gordhan is, in beheer van die SAL bly. Dít al is die SAL in sakeredding geplaas.

“Niks by die SAL het regtig verander nie en dit gaan voort om ʼn enorme las op die staat se inkomste te wees,” het Lees Woensdag gesê. “Dit is verregaande dat geld wat desperaat nodig is om die ekonomie te stimuleer en werk te skep, in die SAL-ydelheidsprojek gestort word.”

Lees sê dié geld word uitgegee terwyl staatstoelae vir kinders met ʼn skamele R20 per maand verhoog word. Dié toelaag beloop nou R445, ʼn bedrag wat beskou word as hopeloos onvoldoende om aan ʼn kind se basiese behoeftes te voldoen.

“Die ANC en sy vakbond-alliansievennote moet hul koppe in skaamte laat sak vir dié vermorsing van geld op die SAL,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Solidariteit moes nooit ‘n tyd gelede toegestem het tot die vrywillige sakeredding van die SAL nie, dit was toe al duidelik soos daglig dat die ANC regering in beheer van sake wil bly, dit wat ons nou beleef kon mens toe al met ‘n stok aanvoel. En nou? Nog reddingsboeie, R16,4 miljard oor die volgende 3 jaar.

Niklaas

Daai geld kon baie better aangewend word elders in SA. En dit word seker herhaal oor 2 jaar. Soek eerder straf maatreels en oplossings daar. Groot skenkings gaan wanbestuur nie laat verdwyn nie.

Genis

Nou wonder ek Serfaas, as so baie opdok, kan ons dan nie verniet vlieg nie?

Scalla

Bodemlose put, sluit die lugdiens want niemand koop n bankrot besigheid nie.

Moedeloos

Hoe op dees aarde red jy n sinkende skip. Wens ek kan geld iewers uitgrawe vir my budget wat nie wil klop nie agv die Regering.