Nóg miljoene rande se opknappingswerk vir Nkandla beplan

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Nathi Nhleko, minister van polisie, het Woensdag aan parlementslede gesê die R246 miljoen wat as amptelike bedrag gebruik word vir die opknappingswerk wat by pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning gedoen is, sluit R31 miljoen se verdere opknappingswerk in.

“Ek vind hierdie openbare bespreking oor die R246 miljoen vreemd,” het Nhleko gesê aan lede van die ad hoc-komitee wat sy Nkandla-verslag wat in Mei uitgereik is bestudeer. Nhleko se verslag het bevind Zuma kan nie aanspreeklik gehou word om enige koste van die opknappingswerk aan sy huis terug te betaal nie.

“Die R31 miljoen is ingesluit as geraamde koste vir werk wat nog gedoen moet word,” het hy gesê. Nhleko het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die beplande gebruik van die R31 miljoen of die akkuraatheid van die geraamde bedrag nie. “Ek weet wat deel gevorm het van die berekening van die geraamde bedrag nie. ʼn Beraming is net ʼn beraming. Dit is iets wat nie bestaan nie,” het hy gesê.

Die komitee het Dinsdag vir die eerste keer weer vergader nadat hulle verlede week Nkandla besoek het om inspeksie te doen van die president se woning. LP’s van al die partye, insluitend die ANC, het hul misnoë uitgespreek oor die swak gehalte werk wat by die woning gedoen is. Hulle is vlugtig verlede week deur Nhleko toegespreek, maar het nóg ʼn samekoms versoek ná die besoek aan die woning.

Ná die besoek het opposisie-LP’s teruggekeer na hul vorige onwilligheid om verdere veiligheidsopgraderings by Nkandla te ondersteun. Die Vryheidsfront Plus se Corné Mulder het Woensdag gesê hy voel die geld moet eers van die kontrakteurs teruggeëis word omdat hulle sulke swak werk gelewer het en nie hul kontrakte nagekom het nie.

Mulder het gesê dit moet gebeur voordat enige verdere geld aan veiligheidsopgraderings bestee word. “Ek is nie ten gunste daarvan dat een verdere sent bestee word nie. Kom ons gaan kry die geld – die miljoene – en dan kan ons die projek voltooi, maar die belastingbetaler moet nie nog ʼn sent betaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.