Nog minder munisipaliteite behaal skoon oudits

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal. Foto: Flickr/GovernmentZA

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, het Woensdag die jongste munisipale oudits bekend gemaak wat die bestuur van munisipaliteite in nog ʼn swakker lig as vantevore plaas.

Makwetu se jongste verslag oor die prestasie van munisipaliteite gedurende die 2017-2018 finansiële jaar toon ’n algehele afname in munisipale oudituitkomste. Die verslag is vir die finansiële jaar geëindig 30 Junie 2018.

Volgens die ouditeur-generaal toon die onlangse oudit van munisipaliteite dat verskeie plaaslike regeringsrolspelers oor die afgelope finansiële jaar traag was met die implementering van die ouditkantoor se aanbevelings van die vorige jaar. Sommige munisipaliteite het geensins ag op die aanbevelings geslaan nie, meen Makwetu.

Volgens Makwetu is die kruks van die saak dat plaaslike regerings se aanspreeklikheid vir finansiële en prestasiebestuur al meer verswak. Dié beslissing word gestaaf deur die feit dat slegs 18 munisipaliteite van die 257 munisipaliteite wat geoudit is, skoon oudits ontvang het. Dié munisipaliteite was die enigste van die groep om finansiële state en prestasieverslae van gehalte te lewer, het Makwetu gesê.

Dit skets ʼn donker prentjie aangesien 33 munisipaliteite in die vorige finansiële jaar skoon oudits ontvang het.

“Nie net het die ongekwalifiseerde menings oor die finansiële state van 61% tot slegs 51% afgeneem nie, maar die gehalte van die finansiële state wat vir die oudit voorgelê is, was selfs slegter as die vorige jaar s’n. Slegs 19% van die munisipaliteite kon vir ons finansiële state deurgee sonder wesenlike wanvoorstellings,” het die ouditeur-generaal gesê.

Volgens Makwetu is 65% van die munisipale prestasieverslae wat ontvang is, nie geskik vir ouditgebruik nie.

Om sake te vererger, het 74% van munisipaliteite hul plig versuim om bewerings van finansiële wangedrag en bedrog die afgelope jaar op te volg, waarvan 45% van die munisipaliteite nie eers oor die nodige meganismes beskik het om ongerymdhede binne die betrokke munisipaliteit te ondersoek nie.

“Meer as die helfte van die munisipaliteite het nie enige bewerings ondersoek nie. In die geval waar van die munisipaliteite wel ondersoek ingestel het, kon 34% van die munisipaliteite nie daarin slaag om die ongerymdhede op te los nie.

“As gevolg hiervan het die jaareindbalans van onreëlmatige uitgawes oor baie jare tot R71,1 miljard opgeloop, terwyl ongemagtigde uitgawes R46,2 miljard en verkwiste uitgawes R4,5 miljard beloop,” het Makwetu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
kallie du Plessis

Nee wat daar is geen wil om gelde oor te betaal nie. Nie terwyl die hande in die goupot is nie, die soustrein stoom lekker voort,maar helaas die wiele is besig om af te val!

sweis

Dit is nie n verassing nie vir n land

sweis

Dit is nie n verassing nie vir n land wat nie mense aanstel in poste op meriete nie maar op velkleur gaan dit net erger word skrap die diskriminerende wette en maak die land weer gesond ,ignoreer dit en die land sal doodgaan.

Anoniem

Net skep en skep todat daar niks oor is nie en ons land is klaar besig om sy te sien.

pieter

Laat die 4 politieke partye bo aan di lys die munisipaliteite bestuur