Nóg ʼn aansienlike styging in eierprys verwag

Paul Makube, senior landbouekonoom by FNB Business. Foto: ANA

Die prys van eiers sal na verwagting nóg meer styg nadat die prys reeds in die afgelope paar maande aansienlik gestyg het weens die uitbreking van voëlgriep in 2017.

Paul Makube, senior landbouekonoom by FNB Business, het Donderdag gesê die uitwerking van voëlgriep op die verbruiker sal tot gevolg hê dat die prys van eiers oor die volgende paar maande tussen 15% en 20% styg.

“Die styging in eierpryse is onderhewig aan die vraag-en-aanbod-dinamika met die uitbreking van voëlgriep wat ʼn aansienlike invloed op die onlangse prysstygings gehad het,” het Makube gesê. “Die uitwerking op pryse was meer ingrypend in die Wes-Kaap weens lêhoenders wat van kant gemaak moes word en die gevolglike voorraadtekort op die streek se rakke.”

Voëlgriep het die pluimveebedryf getref net toe die bedryf van ʼn erge droogte begin herstel het. Die droogte het daartoe gelei dat talle kommersiële en veral kleiner boere gesukkel het om by te bly met die stygende koste van voer teen die einde van 2016 en begin 2017.

Volgens die jongste data van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het die prys van eiers jaar-tot-jaar in Oktober 2017 met 8,5% gestyg. Die bedryf het ook ʼn afname van 12% in die gemiddelde weeklikse eierproduksie gedurende September 2017 aangeteken, het die SA Pluimveevereniging gesê.

Makube het gesê hierdie tendens sal waarskynlik op kort tot medium termyn voortduur aangesien voorraadtekorte tot ʼn jaar lank kan voortduur, maar die vraag sal nie dramaties verander nie met per capita-verbruik wat rondom 7,9 kg per persoon per jaar is.

Hy het gesê die afwentelingsimpak sal beteken dat kleinhandelaars eiers oor die feestyd teen hoër pryse sal verkoop en verbruikers dus meer sal moet betaal of minder sal moet verbruik.

“Die positiewe kant is dat die prysverhoging produsente sal help om verliese te verhaal aangesien hulle steeds aan die skuld betaal wat tydens die laaste droogte aangegaan is.

“Dit sal hulle verder in ʼn beter posisie plaas om hul produksie aan te vul en te verhoog, wat uiteindelik die verbruiker sal bevoordeel ten opsigte van ʼn bekostigbare proteïenbron.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Meeste plekke vra reeds byna R2 per eier, op die trant sal niemand dit meer koop of kan bekostig nie.

Coenie ·

Kry maar n paar hoenders en hou hulle by die huis aan, n hen lê een eier n dag.

Oom Piet ·

Glo glad nie die produsente prys op-praat stories nie.
Meeste mense vermy hoender vleis en eiers produkte weens die hoendergriep. Meeste pryse in RSA mos baie dekades lankal gegrond op “import parity” asof alles ingevoer word met uit/invoer kostes en heffings bygetel. Heffings omdat invoer pryse in werklikheid baie goedkoper as plaaslike produsente pryse is. Pryse hoort baie, baie te val.

Rooiman ·

Ag tog, dit is slegte nuus Nou gaan pannekoek en sjokoladekoek nog duurder word. Groot tragedie!

Gerrie ·

Toemaar dis darem nie 71sent n eier nie,hang af van die wisselkoers van die hoender,gaan hy op of gaan hy le

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.