Nog ’n aanslag op eiendomsreg kom

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan die ANC se soveelste poging om eiendomsreg in Suid-Afrika te bedreig, teenstaan.

Nie lank nadat die regerende party daarin misluk het om die wysiging aan die Grondwet wat die onteiening van private eiendom sonder vergoeding moontlik sou maak, aanvaar te kry nie, is nuwe voorstelle oor grondhervorming in ’n ekonomiese beleidsdokument van die ANC gemaak.

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder, sê nou die skepping van ’n landbou-ontwikkelingsagentskap word voorgestel. Die agentskap sal daarvoor verantwoordelik wees om beleidstellings en prosesse in te stel om die skenking van grond aan swart boere te fasiliteer. Die agentskap sal ook getaak wees om aansporingsmeganismes – soos SEB-erkenning – vir boere te skep wat grond skenk of ondersteuning aan swart boere verleen.

Broodryk sê dit is duidelik nóg ’n bedekte poging van die ANC om met eiendomsreg in te meng. En die kanse dat hierdie agentskap op ’n neutrale en regverdige manier gaan optree, is “hoogs onwaarskynlik”.

“Die ANC se bewerings dat die model van gewillige koper en gewillige verkoper misluk het, is onwaar aangesien die regering meer as R60 miljard aan grondhervorming bestee het, maar slegs ’n geraamde 6,3% van die grond wat gekoop is, aan privaat eienaars oorgedra het.

“Dit is dus die ANC wat onwillige verspreiders is van die grond wat hy opgegaar het.

“Die betrokkenheid van die Landbank is ook kommerwekkend, aangesien die bank verliese van miljarde rande gely het. In 2021 het ’n verslag deur die ouditeur-generaal bevind dat die Landbank se finansiële verliese vir die jaar tot 31 Maart 2020 met 211% tot R2,8 miljard gegroei het, vergeleke met ’n verlies van R902 miljoen in die vorige jaar.

“Die feit dat die plan die toekenning van SEB-punte aan deelnemende grondeienaars insluit, wys opnuut dat die ANC absoluut rasbehep is,” meen Broodryk.

“Al het die ANC die illusie probeer skep dat die geld vir hierdie projek deur skenkings vanuit die privaat sektor ingesamel sal word, maak die beleid dit duidelik dat fiskale toelaes ook gebruik sal word om die projek te finansier. So, weereens is dit die belastingbetaler wat die rekening sal betaal.

“Die ANC is duidelik op die agtervoet sedert sy parlementêre mislukking om die regering se diefstal van eiendom te wettig en raak dus al hoe meer desperaat om dié beleid te probeer afdwing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Miskruier ·

Geen ander kommentaar?? Moenie huil die dag as die anc die winkelrakke moet volpak nie.

SjN ·

Hul lede is geldhonger, nie gronghonger nie aangesien hul nie lief is vir werk nie!!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die ANC-leierskap en die Russiese leierskap deel dieselfde DNS: GIERIGHEID en die Marxistiese kommunistiese ideologie, leuens en korrupsie ten koste van die massas. Hierdie lewe is ‘n voortdurende stryd tussen die lig en die magte van die duisternis. Demokrasie, Vryheid, Geregtigheid, Vrede en Voorspoed moet verdien word deur aktiewe betrokkenheid en samewerking met andere met dieselfde waardestelsel. Ons kan nie bekostig om slawe van die ANC se “National Democratic Society”, oftewel “eMzansibabwe” te wees nie.

Bertie ·

Die ANC kultuur is een van vernietiging en hulle beskou dit as hulle reg om alles wat “wit” is, in te palm.

Schalk ·

Eendag gaan ons almal op ‘n plek wees waar almal gaan vra waar is die kos? Waar is die boere? Dit is in almal se belang on die diefstal van grond verskuil in ‘n (politieke party gemaakte )wet te beveg. Dit gaan ook nie ophou by boere en landbou grond nie.

Jack ·

Baklei die vloeke. Oormag is groot ennons is min maar ons is nog.

annie ·

Skenk of gee? Wat is die verskil? Afpers of… dalk eerder? Dit is ooplopend ‘n plan om werkers op te sweep om druk op hul werkgewers uit te oefen om grond af te staan… Anders… Enige boer wat val vir dié plan gaan grys word voor sy tyd want die eise en volgehoue druk gaan van hom die slaaf van die ANC se kommunistiese vleuel maak.

LANA is ELANè ·

Hul makliker poging is om te sorg dat SAPS hande gevou staan en toekyk hoe boere se oeste, infrastruktuur, huise ens verwoes word, totdat boere uit pure mismoedigheid boedel oorgee en sodan kry die regering grond sonder enige moeite. Georganiseerde misdaad is aan die orde aan die dag. #kirkwood

MakersMark ·

Kan net vat wat ander opgebou het. As dit op is dan is dit bakhand staan by die UN kostrokkie. Kyk maar verder noord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.