Nog ʼn aanval in Pta-reservaat

Fiona Zerbst. Foto: Verskaf

Fiona Zerbst. Foto: Verskaf

Twee vroue van Pretoria is die jongste slagoffers wat in die afgelope paar maande in die Groenkloof-natuurreservaat oorval en beroof is.

Fiona Zerbst (46) het aan Maroela Media vertel sy en ʼn vriendin, Carmen le Roux, het omstreeks 07:45 in die reservaat gestap toe twee mans skielik uit die bosse op hulle afgekom het.

“Hulle het klippe opgetel en na ons gegooi terwyl hulle op ons afgestorm het. Een van hulle het Carmen met ʼn groot klip teen die kop gegooi en toe sy val, het hy bo-oor haar gaan staan,” het Zerbst gesê. Sy vertel die tweede een het haar aangeval, maar sy het teruggeveg deur haar vingers in sy oë te druk en hom aan sy hare rond te ruk.

“Hy kon my nie onderkry nie en die ander rower het nader gehardloop om hom te help. Hulle het my teen die grond gestamp en my gewurg. Ek het hulle geskop so hard as wat ek kon en net aanhou terugveg.” Die rowers het die sak wat om Zerbst se lyf was, van haar af geruk en in die bosse in verdwyn.

Le Roux het ʼn groot wond aan haar kop gehad wat erg gebloei het en Zerbst het haar gaan help. “Sy het net aanhou skree, want sy was verskriklik ontsteld,” het Zerbst gesê. Na ongeveer vyf minute het ʼn groep stappers om die draai gekom en hulle gehelp. Zerbst en Le Roux is by ʼn hospitaal ondersoek en behandel, maar gelukkig is nie een van hulle ernstig beseer nie.

“Hulle het weggekom met ons selfone en my sak wat my bestuurslisensie en ID in gehad het, maar daar was niks waardevol in nie. Net R10 en twee appels,” het Zerbst gesê. “Ek dink die hoofrede vir die aanval was om ons te beroof, maar as ons nie so erg terugbaklei het nie, sou hulle ons dalk in die bosse in getrek en iets baie erger gedoen het. En dit in ʼn natuurreservaat wat veronderstel is om veilig te wees.”

Dit is die jongste voorval in ‘n reeks aanvalle by natuurreservate in Pretoria die afgelope jaar. ‘n Bejaarde paartjie is in Mei 2015 ook by die Groenkloof-natuurreservaat aangeval en beroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

johan ·

Sterkte met julle herstel en ja, dit is jammer dat so iets daagliks in ons land gebeur maar dit is omdat ons tussen barbare moet leef.

GES ·

Dit is tyd dat ons mense moet begin aanvaar dat sekere plekke net in groepe op sekere tye besoek kan word. Dames en mans kan gerus hulleself maar bewapen met skokstokke en pepersproei. Ons leef in abnormale omstandighede. Dit is sleg om elke keer weer te lees hoe ons mense aangeval en leed aangedoen word.

marous ·

Draf of loop met ‘n sambok! Oefen so in die draf en slaan dan met mening!!!!

Theresa ·

Ek vra weer, gaan die woord barbare ook dalk verbied word? Want dis die waarheid en dis waarvoor ons mos staan? My vorige kommentaar is nie geplaas nie. Mag ek weet waarom nie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Theresa

Jou vorige kommentaar het ongelukkig nie voldoen aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Realis ·

Oplossing vir reservaat besoekers, gebaseer op ‘n vriend se ondervinding.
My vriend het ‘n meule gehad vir mieliemeel in Witbank. Die het hy persoonlik by besighede afgelewer. Op ‘n dag, terwyl hy besig was met aflewerings steel iemand sy tas op die Condor se voorste sitplek. Gelukkig geen waarde items nie.
Hy koop toe weer ‘n goedkoop “aktetas”, vang ‘n meneer van ‘n rinkhals en sit die in die tas en plaas op die sitplek. Twee dae later is die tas weer geneem.
Reservaat besoekers oorweeg die ding en as jy weer aangeval word, gee die sak en hol.

GES ·

Reallis – jy meen die twee dae later is die tas weer gesteel nie geneem nie :-)

Paul ·

Waar was dit? In die Groenkloof Natuurreservaat of in die Fort Klapperkop-area? Die beriggewing hieroor is onduidelik, aangesien julle berig oor ander aanvalle in “dieselfde reservaat” verlede jaar, maar daardie aanvalle was in die Fort Klapperkop-area (oos van die R21) Die Groenkloof Natuurreservaat is tussen die R21 en Christina de Wit.

Ook, die woord “opgeëindig” is ‘n anglisisme. Die Afrikaans is “beland”.

Sune van Heerden ·

Dagsê Paul

Ons vra om verskoning vir die verwarring in die stuk rakende Fort Klapperkop. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

DPJ ·

Al probleem is dat jy later gearestreer en aangekla gaan word. Moet egter nie daardeur afgeskrik word nie.

GES ·

DPJ ek dink nie die kommentaar is deurdag nie. Volgens die berig het die aanvallers op die vluggeslaan. Gee een goeie rede waarom die klaagsters in die saak gearressteer en aangekla moet word.

Christo Ebersohn ·

Geagte Marine
Wees asseblief meer spesifiek oor waar die insident plaasgevind het. Oos/Noord of Wes/Suid van die R21. Ek stap elke oggend in die reservaat Oos/Noord op Johann Rissik rylaan met ‘n bofbal kolf in die een hand. Mense moet paraat wees en ‘n omgewings rondom teenwoordigheid sintuig ontwikkel. Ons almal het dit ingebore maar dit is afgestomp in die moderne bestaan wat ons daagliks voer. Dink net vir ‘n oomblik soos ‘n skelm en probeer vooruitskat waar die aanvallers jou kan verras en inwag. In die verrassings areas moet jy ekstra attent wees op beweging en skielike veranderings in die onmiddelike nabye omgewing en situasie. Die skelm se grootste voordeel is die element van verassing wat ‘n mens ontkant vang wanneer jy ontspan en sonder planne stap. Gaan dink ‘n bietjie voor die tyd presies hoe jy ‘n fisiese aanvaller gaan en kan afweer of afskrik en volg jou aksie plan noukeurig die dag wat dit gebeur. Gebruik die skielike adrenalien en skrik tot jou eie voordeel deur die “veg of vlug” hormoon slim in te span vir jouself. Oefen dit in ‘n nagebootste situasie ‘n paar keer by die huis deur jou maat te vra om jou om die hoek te verras en skrik te maak en dan vorseer jy jouself om jou vooraf beplande respons en liggaamshouding in te neem. Jy sal sien dat jou onmiddelike respons gekondisioneer kan word deur inoefening en konsentrasie. Ek was nog nooit in my lewe ‘n voorspraker vir passiewe verset nie en ek glo dat dit deel maak van die psigiese voordeel wat jy prysgee deur vooraf te dink jy gaan kwansuis die verloorder in ‘n geveg wees. Begin ‘n bietjie glo dat jy die wenner kan wees en beskerm jouself met mening en oorgawe. Dit is waarskynlik die enigste rede waarom die arme twee dames steeds lewendig is vandag. Ek kry julle bitter jammer maar terselfde tyd salueer ek julle veggees en waagmoed. BRAVO!!

Jan ·

Kry ten minste pepersproei. Nog beter, kry ‘n klein pistool of rewolwer, leer om dit te gebruik en dra dit by jou.

Gjorg ·

Ek stem saam met Paul hierbo. Utters swak verslaggewing. Groenkloof en Klapperkop is twee verskillende plekke. Die laaste aanvaller in die berig was op die pad Klapperkop toe…..hoeveel foute maak Maroela media nog waarvan ons nie weet nie? Dis nie eers moeilik om die regte feite te kry nie man! Uiters teleurgesteld.

Sune van Heerden ·

Dagsê Gjorg

Ons vra om verskoning vir die verwarring in die stuk rakende Fort Klapperkop. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Inge ·

Nou sal hulle wragtag iets daaraan moet doen, dit is belaglik! Lyk my mens moet agter toe deure en tralies sit die res van jou lewe. Ek’s nou g@tvol vir al die snert wat aangaan in hierdie land, wens ek het verder geswot dan kon ek koers kies!

Takkie Takuuza ·

Baie mooi met julle terugveg dames. Moet nou nooit weer dink julle is enige plêk veilig nie. Jy is nie eers in jou huis veilig nie. Vat volgende keer ‘n lekker fris “tazer” saam. Skok die rook uit hom uit. Hulle is so bang vir daai goed soos vir ‘n slang

EMK ·

Selfs ‘n blik Doom kan help, kleintjies is nie swaaar en spuit hom in die oë – genoeg kans dan om weg te kom!

dr Adie Viljoen ·

Die berig was vaag oor die plek van die aanval , ‘n joernalis behoort beter te kan doen

Melinda Potgieter ·

Na gelang van die artikel wil ek graag vra… Kwalifiseer die aanval waarop nou berig is en die aanval op die bejaarde egpaar in Mei 2015 vir ‘n “reeks” aanvalle in die reservaat?

Sune van Heerden ·

Dagsê Melinda

Ons vra om verskoning indien daar verwarring was. Die berig noem dat daar “‘n reeks aanvalle by natuurreservate in Pretoria was” – daar was, afgesien van die twee betrokke voorvalle in die Groenkloof-natuurreservaat, ook ‘n paar voorvalle in die reservaat by die Voortrekkermonument.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

EMK ·

Mense tog, wat wil jul nou harekloof oor die presiese ligging en dinge, feit is die dames is aangeval en het nie nonsens gevat nie. Leer hieruit en beplan voor jy gaand arf/stap. Hoekom moet ons “gevangenes” wees in ons eie land, neem terug ons vryheid. Dames, gaan, al is dit vir heel basiese, selfverdedigingsklaase en sorg dat julle met IETS stap/draf. Sputikan met vlieëgif, oondreiniger, watookal, ‘n klip/stok in die hand – wees net paraat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.