Nóg ʼn aanval op Boschkop-kleinhoewe

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man en vrou is Dinsdag op hul kleinhoewe in die Boschkop-omgewing oos van Pretoria aangeval en beroof, skaars vyf dae ná die liggame van die bejaarde Swanepoel-egpaar op hul kleinhoewe aangetref is.

Kapt. Marissa van der Merwe het aan Maroela Media gesê twee gewapende aanvallers het die man en vrou, albei in hul 40s, omstreeks 04:00 in hul huis oorval. “Die verdagtes het toegang tot die huis bekom deur ʼn venster te breek wat nie diefwering aan gehad het nie,” het Van der Merwe gesê.

Die verdagtes het die slagoffers in hul slaapkamer oorrompel, vasgebind en met ʼn vuurwapen gedreig. Die aanvallers het die huis geplunder, en het onder andere skootrekenaars, ʼn televisiestel en selfone gebuit. Hulle het met die egpaar se Toyota Fortuner gevlug. Die voertuig is later in Mamelodi opgespoor. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak.

Van der Merwe het intussen gesê niemand is nog in verband met die Swanepoel-egpaar se moord in hegtenis geneem nie. “Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en wag nog vir forensiese uitslae.”

Maroela Media het oor die naweek berig Sandra (80) en Louis Swanepoel (82) se liggame is Vrydag omstreeks 12:30 deur hul seun, Johan, in hul huis op hul kleinhoewe in Mooiplaas, in die Boschkop-omgewing aangetref.

Sandra se liggaam is in die gang naby die agterdeur gevind. Sy is in die kop geskiet. Louis se liggaam is in die slaapkamer gevind. Van der Merwe sê hy het geen sigbare wonde gehad nie. Die polisie het ‘n vuurwapen in die studeerkamer gevind. Niks word uit hul huis vermis nie en daar was nie gedwonge toegang, of tekens van ʼn worsteling nie.

Charles (76) en Ralie Groenewald (74) is op 12 Mei op hul kleinhoewe in die Boschkop-omgewing aangeval, waar hulle ʼn winkel bedryf het. Charles is tydens die aanval doodgeskiet. Sy aanvaller, ‘n polisiereservis van KwaNdebele, is sowat 500m van die kleinhoewe aangetref. Charles het hom tydens die aanval in die maag geskiet. Dit het Vrydag aan die lig gekom hy word ook verbind aan ‘n reeks ander misdade.

Lees ook:
Mooiplaats-moorde: Niemand nog vas
Seun kom op ouers se liggame af
Kleinhoewe-aanval: Bejaarde vrou sterk aan
Bejaarde op kleinhoewe doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.