Nóg ʼn aanval op KZN-plaas

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

ʼn Plaaslike buurtwag het Sondag in die vroeë oggendure ʼn vrou op ʼn plaas in die Hluhluwe-gebied in KwaZulu-Natal te hulp gesnel nadat sy vreesbevange gebel het om te sê drie onbekende mans het by haar huis ingebreek.

Karel De Haas, selleier van die landelike buurtwag in die Bushlands-gebied, het aan Maroela Media gesê hy het Sondag omstreeks 02:45 ʼn oproep van ʼn inwoner van die omgewing gekry dat ʼn aantal onbekende mans in hul plaashuis is.

De Haas het die polisie en ander lede van die buurtwag in kennis gestel voordat hy na die toneel gejaag het. “Toe ek daar aankom, het ek eers nie nader gegaan nie, omdat ek wou seker maak wat die situasie is en of daar nie dalk nog verdagtes buite rondom die huis is nie. Ek was seker binne tien minute na daardie eerste oproep op die toneel,” het hy gesê.

“Ek het toe weer die vrou gebel, maar sy het nie geantwoord nie. Sjoe, daardie tyd gaan allerhande gedagtes deur jou kop.”

Direk daarna het die vrou se skoonma, wat ook in die huis was, De Haas gebel om te sê die verdagtes het op die vlug geslaan. Nog lede van die buurtwag, lede van die SAPD, veiligheidsbeamptes van Alpha Sekuriteit en lede van ʼn teen-renosterstropery organisasie was ook vinnig op die toneel.

“Ek dink die verdagtes het dalk ons ligte gesien en toe besluit om eerder te vlug. Die vinnige optrede van die buurtwag het dus verhoed dat die inwoners van die huis erger beseer is,” het De Haas gesê. “Pierre Conradie, eienaar van Alpha Sekuriteit, was ook op die toneel en het ons gelei om die situasie te hanteer.”

Hy het gesê hoewel die presiese besonderhede van die aanval nog vaag is, was ʼn vrou, haar twee kinders en haar skoonouers in die huis toe die aanvallers toegeslaan het. Die aanvallers het glo ʼn badkamervenster gebreek om in te kom en toe die vrou besef hulle is in die huis, het sy onmiddellik vir De Haas gebel.

Haar skoonouers is aangerand, maar het gelukkig slegs ligte beserings opgedoen. Die vrou het haar arm erg beseer toe sy glo gestoei het om die kamerdeur toe te druk toe die aanvallers probeer het om in te kom. Sy is op die toneel deur ʼn paramedikus behandel voordat sy na ʼn hospitaal geneem is vir behandeling.

De Haas kon nie bevestig wat alles uit die huis gesteel is nie, maar het gesê dit was onder meer ʼn televisie, selfone en skootrekenaars. “Ons het ʼn hond daar gehad wat gehelp het om die aanvallers se spoor te volg, maar niks is gevind nie. Die verdagtes het te voet gevlug, maar ek weet nie of daar dalk ʼn voertuig aan die ander kant van die rivier was wat hulle opgelaai het nie,” het hy gesê. “Daar was drie verdagtes in die huis. Dit is moontlik dat daar dalk nog was wat buite die huis gewag het.”

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê twee verdagtes, onderskeidelik 22 jaar en 25 jaar oud, is Maandag in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.

Volgens De Haas loop die Bushlands-gebied die afgelope tyd erg onder misdaad deur. “Die laaste paar weke was hier baie inbrake in die gebied, veral by lodges in die area,” het hy gesê.

ʼn Paartjie is verlede week op ʼn kleinhoewe naby die Cebekhulu tradisionele tuisland-omgewing in die Empangeni-gebied oorval en erg aangerand. Trevor Rees (79) is Saterdag dood, ʼn week nadat hy op ʼn kleinhoewe in die Underberg-omgewing aangeval en onder meer met Jik en ʼn tang gemartel is. Drie mans het Gavin Carter (47) op 1 Februarie, ook in die Underberg-gebied, op sy plaas oorval en doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PMB ·

Nog n sinnelose aanval op ons mense. Waar is ons politieke partye nou. Groot bek in die parlament maar het niks te se en doen as dit gaan oor die beplande aanvalle op ons mense???

Werner ·

Stem saam! Dankie buurtwag. Defnitief nog moord/e is hier verhoed. Wees net bedag hul kan weer terugkom.

Pettra Strydom ·

Opregte dank vir die vinnige optredes van die verskeie betrokkenis. Wat vir my so opvallend is, is dat al hierdie geweldadige aanvalle op ons blankes deur mense gepleeg word wat eers gebore is, na die land oorgegee is aan hulle. …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.