Nóg ’n aanval op Pretoria-kleinhoewe

Monica Gondwe met die kolf van ‘n jaggeweer deur haar gesig geslaan. (Foto: Verskaf)

’n Egpaar is Woensdagaand op ’n kleinhoewe in Kameelfontein, noord van Pretoria, oorval en aangerand – nie ver nie van die kleinhoewe in Kameeldrift waar oud-Springbok Naka Drotské verlede week tydens ’n aanval geskiet is.

Monica Gondwe (27) en Bright Lundu (32) was omstreeks 19:00 Woensdagaand besig om aandete voor te berei toe hulle deur twee gewapende rowers in hul huis op die kleinhoewe oorval is.

Só sê Frikkie Mostert, Gondwe se werkgewer. Mostert verduidelik dat Gondwe vanaf die begin van die jaar vir hom werk en saam met haar man in ’n aparte huis op die kleinhoewe woon. Gondwe is oorspronklik van Malawië en sou binnekort vir die vakansie na haar tuisland teruggekeer het.

Volgens Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het die verdagtes, onderskeidelik gewapen met ’n handwapen en ʼn jaggeweer, die egpaar se huis binnegestorm waarna hul Lundu vasgebind en die jaggeweer op Gondwe gerig het.

Gondwe het egter een van die aanvallers probeer ontwapen waarna ’n struweling tussen haar en die aanvaller ontstaan het. Die ander aanvaller het in dié stadium Gondwe met ’n besemstok op haar rug geslaan sodat sy die jaggeweer waaraan sy vasgeklou het, moes los. Gondwe is daarna met die kolf van die jaggeweer deur haar gesig geslaan.

Mostert vertel dat hy Gondwe tydens die struweling van sy huis op die kleinhoewe kon hoor skree. Hy het onmiddellik na die egpaar se huis gehardloop en die verdagtes het in hierdie tyd met kontant en vier selfone op die vlug geslaan.

Mostert sê die polisie is daarna na die toneel ontbied en die egpaar is deur beamptes ondervra. Hy sê hy het die egpaar tydens dié proses bygestaan aangesien Gondwe sukkel om Engels te verstaan.

Mostert voer aan dat die polisiebeamptes nié die regte prosedures tydens die ondervraging gevolg het nie en bewyse moontlik in die proses vernietig is. Hy verduidelik dat die polisiebeamptes op die toneel die egpaar in dieselfde vertrek ondervra het as waar die aanval gebeur het.

Die beamptes het na bewering ook geen vingerafdrukke van die besemstok of in die vertrek geneem nie. Die forensiese span het glo twee ure later opgedaag waarna hul óók wou weet waarom die verklarings binne die huis afgeneem is.

Mostert vertel verder dat ’n verdagte pakkie uit een van die verdagtes se sak tydens die aanval geval het waarna dit op die bed gelê het. Dié pakkie het glo later nie meer daar gelê nie. Later sou Mostert hoor dat een van die polisiebeamptes die pakkie glo opgetel het voor die forensiese span dit kon ondersoek.

Sers. Tsietsi Lamola, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy sê ʼn saak van huisbraak word ondersoek. Lamola het nie op Maroela Media se vrae gereageer oor bewerings dat polisiebeamptes nie die korrekte ondersoekprotokol gevolg het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Dit lyk vir my of die Kameeldrift omgewing deur ‘n klomp “useless” polisiebeamptes bedien word. Verplaas ‘n paar na Put Sonder Water en kry nuwe bloed in.

Deel van dit... ·

Man daai polisiemanne is deel van die aanval, dis hoekom hulle als verkeerd gedoen het….

Elsabie ·

‘n Saak van Huisbraak!!!!!!!!!!!!!!!!! Goeie hel man, enige leek weet dit nie huisbraak nie. Daardie polisiemanne moet sommer almal van ontslae geraak word want nie een van hul weet waaroor dit gaan nie?? Onnosel!!

Hoe gemaak ·

Indien die polisie manne wat betrokke was ge suspend word stel dit Mostert in gevaar. Ja die polisie wat dalk deel was en moontlik oop gevlek mag word weet waar Mostert bly. Hulle soek revenge en sal nie dinge net daar gelaat nie… my skoonma is erger as n rotweiler Mostert kan haar vir n ruk leen om wag te hou.. Wees veilig mense asb wees veilig!

Koos de Meyer. ·

Sit maar ‘n vraagteken agter hulle bevoegdheid. Hoe vertrou ons hulle wat veronderstel is om ons te beskerm. Op hierdie stadium lyk dit vir my of dit net ‘n paar manne en vroue is wat hulle sout werd is. Hoeveel van die sogenaamde bevryders is in die polisie mag op geneem. Waarom betaal ons belasting en dan wil hulle ons ontwapen vir selfverdediging. Dit gaan nie so maklik wees nie.

Uiltjie ·

Die inwoners van kameeldrif en kameelfontein, sal daai moet verander na bloedrant en bloedfontein, want het darem al net te veel bloed gevloei.

AH ·

Swak SAPD, uiters swak!! Julle gaan seker nou nog ekstra bevordering kry! Ek het geen vertroue in die SAPD nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.