Nog ʼn aanval ruk Dorset-gemeenskap

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

Die Limpopo-polisie ondersoek die moontlikheid of ʼn plaasaanval vandeesweek in die Dorset-omgewing, tussen Vaalwater en Lephalale (Ellisras) in Limpopo, verband hou met ʼn onlangse verkragting in die gebied.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit volg nadat ʼn egpaar Maandagaand op hul plaas aangeval en beroof is.

“Vyf gewapende mans het die egpaar in hul huis oorval en met plastiekkabels vasgevind,” het Otto gesê. “Hulle is gedwing om die kluis oop te maak, waarna die verdagtes met vier vuurwapens, juwele en waardevolle items in die egpaar se motor gevlug het.”

Die egpaar is ongedeerd. Hul motor is later verlate in die omgewing opgespoor.

Maroela Media het verlede week berig ʼn 40-jarige vrou is op 23 Maart helder oordag verkrag terwyl haar gesin by ʼn plaashuurhuis naby Dorset ingetrek het.

ʼn Onbekende man het die vrou, wie se identiteit beskerm word, omstreeks 16:00 in die huis oorval. Hy het haar gegryp en na ʼn waterpompstasie gesleep waar hy haar na bewering verkrag het. Hy het met twee selfone van die toneel gevlug. Die vrou is na bewering tydens die aanval met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan en het kopwonde opgedoen. Sy het ook beserings aan haar gesig en arms opgedoen terwyl sy terugbaklei het. Sy is ná die aanval na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Lees meer hier.

Niemand is nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

boer ·

Moenie jou vuurwapen in die kluis sit as jy op n plaas bly nie. hou dit so na as moontlik aan jou.
Skiet n skoot of twee voor julle gaan slaap,sodat die gemors weet, daar word geskiet.

Hulle is nou weer besig met hul skrikbewind, om ons van die plase af te kry. Kry vir jou n hond in die huis,sit veiligheids hekke voor jou kamer deur (dit gaan hulle nie stop nie,maar sal jou bietjie tyd gee om jou wapen te kry). Hierdie land maak my siek,met sy regering en kriminele,maar glo my hierdie is my land en ek sal nie weg hardloop nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.