Die Johannesburgse nooddienste het gesê hy is bewus van verskeie berigte van ʼn aardskudding wat Dinsdagaand in die suidelike en westelike gedeeltes van die stad voorgekom het.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van die stad se nooddienste, het gesê die aardskudding is teen 19:23 aangemeld.
“Geen beserings of strukturele skade is tot dusver by die nooddienste se inbelsentrum aangemeld nie,” het hy gesê.
Mulaudzi het gesê die stad se nooddienste, insluitende die brandweer, paramedici en soek-en-reddingspanne, was op hoë gereedheid geplaas en sou reg deur die aand regstaan vir noodgevalle wat met die aardskudding verbind word.
Dit is die tweede aardskudding wat die stad vanjaar getref het. Die vorige een het op 23 Januarie teen 21:45 voorgekom.
“Daar is reeds met die Raad vir Geowetenskappe in verbinding getree om die aardskudding te bevestig en die skaal en kategorie daarvan te bepaal. Verdere ondersoek oor die moontlike oorsaak van die skuddings word gedoen.”
Mulaudzi het inwoners versoek om ten alle tye waaksaam te wees. Meer inligting oor die uitkoms van die ondersoek sal mettertyd aan inwoners deurgegee word.