Nog ʼn Afrikaanse fliek op pad Oscars toe

Quanita Adams in ‘Barakat’. (Foto: Verskaf)

Die National Film and Video Foundation (NFVF) het die veelbekroonde MultiChoice-rolprent Barakat gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste internasionale rolprent by die 94ste Oscars-toekenningsgeleentheid volgende jaar.

Amy Jephta sal die vierde vroulike Suid-Afrikaanse regisseur wees wie se rolprent in aanmerking kom vir die Oscars, en die eerste vrou van kleur.

Barakat vertel die verhaal van die Moslemse weduwee Aisha Davids, wat probeer om haar gebroke familie tydens Eid al-Fitr  te herenig en die nuus van haar nuwe romanse breek.

Vinette Ebrahim vertolk die rol van die matriarg, terwyl haar vier seuns, wat steeds sukkel om die afsterwe van hul pa twee jaar tevore te verwerk, vertolk word deur Joey Rasdien, Mortimer Williams, Keeno-Lee Hector en Danny Ross.

Quanita Adams, June van Merch, Bonnie Mbuli en Leslie Fong is ook in die fliek te sien.

Amy Jephta. (Foto: Verskaf)

Barakat is in Afrikaaps, die Kaapse dialek van Afrikaans wat wyd deur inwoners van die Kaapse Vlakte gepraat word.

“Ek is so trots op ons klein storie oor ’n familie wat so baie mense bereik het,” sê Jephta. Sy het 2019 se Standard Bank Jong Kunstenaar van die Jaar vir teater gewen en het ook in 2018 Suid-Afrika se amptelike Golden Globes‑inskrywing vir buitelandse rolprent, Ellen: The Story of Ellen Pakkies, geskryf.

“Om erkenning op hierdie wyse van Suid-Afrika te kry, is baie spesiaal na ’n ongelooflike uitdagende jaar vir ons rolprentbedryf.”

Benoemings vir die 94ste Oscars-toekennings sal op 8 Februarie volgende jaar aangekondig word, met die Oscars-seremonie wat op Sondag 27 Maart 2022 plaasvind.

Suid-Afrika het in 2005 die Oscars-kategorie vir buitelandse rolprent gewen met Gavin Hood se Tsotsi, ná ʼn benoeming in 2004 vir Darrell Roodt se Yesterday. Oliver Schmitz se Life, Above All was op die kortlys in 2010, asook John Trengrove se The Wound in 2017.

Katinka Heyns se Paljas (1997), Jann Turner se White Wedding (2009) en René van Rooyen se Toorbos (2020) het ook voorheen vir die kategorie van beste internasionale rolprent in aanmerking gekom.

Kyk hier na die lokprent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anonymouse ·

Het nou die voorskou gaan kyk op Youtube en dit lyk wonderlik! “Mammie stryk sy onderbroekies!”. Hahaha kan nie wag om dit te sien nie.

Maggies ·

Baie geluk jonge dame. Daar wag ‘n blink toekoms op jou. Jy maak my trots.

JohanR ·

Ek het Barakat gaan kyk…..dit is ‘n goeie fliek en sal goed vaar.

Karina ·

Ek kan ook nie wag om die fliek te sien nie. Aan Amy Jeptha, baie geluk, jy bring Suid Afrika om weer die hoogste toekenning te kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.