Nog ʼn amptenaar vas ná verkoop van erwe

Argieffoto

ʼn Voormalige beampte van die Stad Johannesburg het vandeesweek in die Hillbrow-landdroshof verskyn in verband met die beweerde onwettige verkoop van twee erwe in die suide van Johannesburg wat aan die stad behoort.

Mayedwa Njilana, ʼn voormalige gemeenskapskakelbeampte, is die afgelope naweek op aanklagte van korrupsie en bedrog in hegtenis geneem nadat hy na bewering die erwe in Weilers Farm vir R30 000 verkoop het. Njilana is Maandag op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Njilana is in September 2010 aangestel as ʼn konsultant vir die stad se behuisingsdepartement om te help met die registrasie van titelaktes. Hy was ook die gemeenskapskakelbeampte vir die kontrakteur wat in 2008 deur die departement van behuising aangestel is om huise in Kanana Park in Weilers Farm te bou.

In 2011 het dit aan die lig gekom dat ʼn beampte van die stad erwe in Weilers Farm vir R15 000 elk verkoop. ʼn Inwoner het uiteindelik met die beampte vergader wat as Njilana geïdentifiseer is. Hulle het na bewering ooreengekom oor die voorwaardes vir die betaling van die erf. Die inwoner beweer ʼn deposito van R6 000 is aan Njilala betaal en die res van die bedrag in maandelikse paaiemente.

ʼn Tweede slagoffer, ook van Weilers Farm, het na bewering ʼn deposito van R8 000 in Njilana se rekening inbetaal en die res in maandelikse paaiemente. Die tweede klaer is ʼn erf in die gebied toegeken, maar dit het uiteindelik aan die lig gekom dat die erf aan iemand anders behoort.

Albei klaers het jare lank probeer om hul geld terug te kry van Njilana, maar dit was tevergeefs. Hulle het uiteindelik die stad se Groep Forensiese en Ondersoekdienste (GFIS) in Junie vanjaar genader.

Lucky Sindane van die GFIS het gesê die tendens om erwe in Johannesburg onwettig te verkoop is ʼn neiging wat al meer kop uitsteek en al meer mense word slagoffers van hierdie bedrogspul. “Hierdie twee mense wat bedrieg is, is huishulpe, mense wat nie toegang tot inligting het nie. Hulle het die erwe vir R15 000 gekoop. Waar kry jy ʼn erf vir R15 000?” het Sindane gesê.

“Mense word nog altyd bedrieg, maar hulle het nie geweet waarheen om te gaan nie. Hulle sou polisiestasie toe gaan en nie daar gehelp word nie. Hulle sal munisipaliteit toe gaan en nie hulp ontvang nie. Maar sedert ons eenheid op die been gebring is, is daar vordering en mense begin na vore kom.”

Sindane het gesê Njilana se inhegtenisneming is die derde een vanjaar wat verband hou met die onwettige verkoop van die stad se eiendom. Twee weke gelede is ʼn raadslid in hegtenis geneem wat na bewering grond onwettig verkoop het, terwyl nog ʼn stadsbeampte verlede maand in verband met soortgelyke oortreding in hegtenis geneem is.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het ʼn beroep gedoen op mense met inligting oor die onwettige verkoop van erwe en HOP-huise om na vore te kom en klagtes aanhangig te maak.

“Korrupsie het geen plek in hierdie administrasie nie. Ons sal onverpoosd werk saam met instansies soos die Valke en ander wetstoepassingsagentskappe om seker te maak dat inwoners van Johannesburg die kwaliteit dienste ontvang wat hulle verdien,” het Mashaba gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.