Nóg ʼn ANC-hoë in KZN doodgeskiet

Argieffoto

ʼn Tweede ANC-lid in die Moses Mabhida-streek in KwaZulu-Natal is Donderdagoggend doodgeskiet deur verdagtes wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.

Die ANC het bevestig dat Sthembiso Mhlongo, die adjunkstreeksekretaris van die ANC Jeugliga, Donderdag in die vroeë oggendure by sy huis in Pietermaritzburg geskiet is. Hy is ure later in ʼn private hospitaal dood.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê onbekende verdagtes wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, het vanoggend omstreeks 02:00 in die Mpophomeni-omgewing die 35-jarige slagoffer opdrag gegee om die deur vir hulle oop te maak.

“Toe hy die deur oopmaak het hulle op hom losgebrand en hy het skietwonde aan sy kop opgedoen. Hy is later in die hospitaal dood,” het Mbhele gesê. Volgens haar is die motief vir die moord steeds onbekend. ʼn Saak van moord word ondersoek.

Mandla Shange, die provinsiale woordvoerder van die ANC Jeugliga, het aan African News Agency gesê hy het die nuus van die skietery omstreeks 03:00 ontvang en 06:30 gehoor Mhlongo is dood.
Shange het gesê net soos Lungisani Mnguni wat Maandag naby Camperdown geskiet is, was Mhlongo ook veronderstel om die ANC se nasionale kongres as ʼn stemdraende afgevaardigde by te woon.
“Ons wil beklemtoon dat die mense wat geskiet word jong mense is. Die samelewing waarin ons leef neem nie in ag dat jong mense die toekoms is nie. As ons erken dat jong mense die toekoms van hierdie land is sal ons hulle nie doodmaak nie,” het Shange gesê.

Shange wou nie aannames maak oor die motief vir die moord nie, maar glo dat dit politiek gemotiveerd is. “Mnguni was ʼn afgevaardigde en Mhlongo was ʼn afgevaardigde van die nasionale konferensie. Dit lyk of daar ʼn teiken is op ANC-afgevaardigdes van die konferensie. Daar was baie mense wat baie openlik was oor hulle sienings, veral oor hulle steun vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Ons hoop wetstoepassers kyk noukeurig hierna,” het Shange gesê.

Mhlongo is ná Mnguni se skietdood in die media aangehaal waar hy gesê het die Jeugliga is “diep bekommerd oor die moorde”.

Mnguni is Maandag vermoor terwyl hy items by ʼn skool gaan aflaai het vir ʼn voedselprogram. Die ANC in die Moses Mabhida-streek het sy moord as ʼn sluipmoord bestempel.

Meer as 20 mense is al sedert verlede jaar dood – meestal ANC- en munisipale beamptes.

Die Valke het ʼn beloning van R450 000 uitgeloof vir inligting oor die moorde. ʼn Spesiale taakspan is ook op die been gebring. Boonop bekyk die Moerane-kommissie van ondersoek ook politiek gemotiveerde moorde sedert 2011.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leahim ·

Kyk net die dubbel standaarde en diskriminasie R 450000 00 beloning en n spesiale taakspan om die moord te ondersoek dit word nie gedoen waneer n boer wit of swart op sy plaas vermoor word nie en die grap is dit is ons belasting geld wat so as beloning gegee word

Dirk ·

Hi Leahim, jy het nie reg gelees nie. Daar is ‘n beloning van R450000.00 uitgereik vir inligting op al die moordE (meervoud). Daar word vermoed dat almal met mekaar verbind kan word.

‘n Moord op ‘n plaas is gewoontlik ‘n afsonderlik gebeurtenis (M.a.w. ‘n moord in die Kaap word nie sommer met ‘n moord in Limpopo verbind nie, oftewel, die bewyse wys nie daarop nie).

Dit gesê, ek stem saam met jou; op die einde van die dag betaal elke belastingbetaler.

CHRISTA ·

“Mark my words” hierdie moorde op ANC lede is ALS as gevolg van onderlinge struweling in hulle party!! Kort voor lank gaan dit als op die lappe kom!!

Beloon ·

Skokkend hoeveel keer het die Valke al R450 000 uitgeloof vir die moord op enige bejaarde persoon of plaasboer wat vermoor is? Die familie en vriende loof deesdae maar self ‘n beloning uit om te kyk of hulle die moordenaars kan opspoor, maar dit is ‘n absolute skande dat ‘n ANC politikus se lewe R450 000 werd is en ‘n boer s’n niks. Inteendeel, die sake word baie keer teruggetrek teen die plaasmoordenaars. Dis asof sekere landsburgers net nie meer ‘n reg het tot veiligheid en beskerming nie, en ander se lewens word belangriker geag te wees.

Estelle ·

Dit is dus aanvaarbaar om ouer mense te vermoor omdat hulle nie die toekoms van die land is nie? Dit is nou nogal ñ yskoue redenasie.

Sam ·

Nou hoe weet Maroela dan dit was mense wat hulself as polisiemanne voorgestel het? En hou tog net op om alles met plaas moorde te vergelyk dit raak afgesaag hoe julle vergeet ons het nie net plaas moorde in ons land nie.

Callie ·

ANC maai nou wat hy gesaai het. My simpatie is by die onskuldiges wat deur rowers afgemaai word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.