Nog ʼn ANC-raadslid doodgeskiet

S’bu Maphumulo. Foto: ANA.

Woedende lede van ʼn gemeenskap in KwaZulu-Natal het glo Donderdag gedreig om die huis van S’bu Maphumulo, raadslid vir wyk 88 in Umlazi naby Chatsworth, af te brand kort voordat hy doodgeskiet is.

Die ANC het gesê Maphumulo is Donderdag verskeie kere geskiet terwyl hy in ʼn stilstaande motor buite sy huis gesit het.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het bevestig hy is in sy motor doodgeskiet.

Mbhele het gesê die voorval het omstreeks 21:45 plaasgevind toe die 32-jarige Maphumulo van ʼn vergadering in Umlazi gekom het en ʼn Golf6 langs hom stilgehou het.

“Die verdagtes het skote op hom afgevuur en hy is in die kop geskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug. Die motief vir die moord is steeds onbekend,” het Mbhele gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Nomagugu Simelane-Zulu, woordvoerder van die ANC in KwaZulu-Natal, het gesê daar het bewerings aan die lig gekom dat ʼn groep van die gemeenskap glo Donderdagoggend gedreig het om Maphumulo se huis af te brand omdat hulle nog nie behuising ontvang het nie. Simelane-Zulu wou nie bespiegel of dié bewerings met die moord verbind kan word nie en het gesê dit sal deur die polisie ondersoek word.

Maphumulo is in die 2016- plaaslike regeringsverkiesings verkies en is al lank lid van die ANC en het ook gedien as die ʼn leier in die jeugliga van die ANC in die streek.

Zandile Gumede, burgemeester van eThekwini, het gesê sy sal ʼn groep afgevaardigdes van raadslede en beamptes lei om Maphumulo se gesin Vrydag te besoek.

Maphumulo het verlede jaar plaaslik koerantopskrifte gehaal toe die Abahli baseMjondolo-groep hom beskuldig het dat hy een van sy takleiers tydens ʼn vergadering geïntimideer het. Die groep beweer Maphumulo het saam met polisielede en “huurmoordenaars” die vergadering bestorm.

Bheki Cele, minister van polisie, het verlede week tydens ʼn mediakonferensie gesê die polisie hanteer tans 137 sake van politieke moorde in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ralph ·

Ja die fat cats word so uitgehaal. Ander moet sukkel terwyl hul, hulself verryk en met Duitse motors rond spog. 32 en lekker rond val al die KFC. Wag tot 2019 verkiesing en sien hoe die faksies mekaar uithaal en ANC vs EFF.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.