Nóg ʼn baba in vullissak gevind

Argieffoto

Argieffoto

Die liggaam van ʼn pasgebore baba is Donderdagoggend in ʼn vullissak in Berea, Johannesburg, gevind.

Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê werkers wat vullis verwyder, het die baba in ʼn sak gevind terwyl hulle in Joe Slovoweg besig was. Die babaseuntjie was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.

“Lede van die Johannesburgse metropolisie en die polisie was ook op die toneel. Die omstandighede rondom die voorval sal deur die polisie ondersoek word,” het Steinmann gesê.

Hierdie voorval volg enkele weke nadat ʼn dag oue babaseuntjie lewend in ʼn vullissak in ʼn minibustaxi in Yeoville, naby Berea, gevind is. Nadene Crowder-Grabham, algemene bestuurder van Door of Hope Children’s Mission, ʼn organisasie wat na weggooibabas omsien, het destyds aan Maroela Media gesê daar word gereeld babas of liggame van pasgebore babas in ongewenste omstandighede gevind.

Op 6 Junie is ʼn pasgebore babadogtertjie in ʼn puttoilet in KwaZulu-Natal gevind en twee dae later is die liggaam van ʼn baba in ʼn asblik in Potchefstroom in Noordwes gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dis jammer die ma’s neem nie ook die babas se reg om te lewe in ag nie. Dan het hulle die GROOTSTE monde oor menseregte!!! Beskou hulle nie hulle babas as mense nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.