Nóg ʼn betalingsbewys van Nkandla-geld geëis

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

“Pres. Jacob Zuma het ʼn lang geskiedenis van vriende wat sy rekeninge betaal en moet behoorlik bewys lewer van sy beweerde huislening om die R7,8 miljoen van sy Nkandla-woning te betaal.”

Dit is die mening van Mmusi Maimane, leier van die DA, wat Dinsdag vir die tweede keer ʼn versoek aan Zuma gestuur het om meer inligting oor dié lening bekend te maak.

Die presidensie het in September gesê Zuma het die bedrag van R7 814 155 aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank betaal vir sy private woning by Nkandla, soos die konstitusionele hof beveel het. Volgens die presidensie het Zuma die geld deur ʼn huislening op standaardvoorwaardes van VBS Mutual Bank bekom.

Volgens Maimane kan die opposisieparty egter geen teken van ʼn lening in Zuma se naam by die aktekantoor opspoor nie.

“Hoewel Zuma en VBS Mutual Bank beweer ʼn huisleningooreenkoms bestaan tussen die twee partye, is geen bewyse daarvan by die aktekantoor nie. Dit laat die vraag ontstaan of die huislening inderdaad bestaan,” het Maimane gesê.

Hy het gesê sonder bewyse kan die land nie tevrede wees dat Zuma voldoen het aan die konstitusionele hof se bevel om persoonlik die belastingbetalers se geld terug te betaal wat bestee is aan luukshede vir sy huis nie.

“Ons erken die reg op privaatheid, maar hierdie geval het ongekende meriete.”

Volgens die DA moet die publiek weet of die lening bestaan, wat die voorwaardes daarvan is en of Zuma persoonlik borg geteken het vir die bedrag.

Die konstitusionele hof het op 31 Maart vanjaar bevind Zuma het versuim om die Grondwet te handhaaf of sy presidensiële plig na te kom, toe hy Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se bevindinge en regstellende stappe in haar Nkandla-verslag geïgnoreer en van die hand gewys het. Zuma is aangesê om ʼn “redelike persentasie” van die geld, wat aan nie-sekuriteitsopgraderings bestee is, soos deur die Nasionale Tesourie bepaal, terug te betaal.

Die sakeregtewaghond AfriSake het reeds in September met regstappe begin om die betalingsbewys aan te vra.

Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, het vroeër gesê die hofbevel van 31 Maart bepaal nie dat die geld aan die Reserwebank betaal moes word nie en die presidensie of Tesourie het dit ook nie duidelik gemaak wanneer die geld betaal is nie. Geen betalingsbewys is verskaf nie.

AfriSake het die betalingsbewys met ʼn regsproses ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aangevra. Die presidensie het 30 dae kans om daarop te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Roer hom Mmusi. Sonder skriftelike bewys kan jy nie ‘n enkele woord glo wat hy sê nie. Dit is tog al oor en oor bewys. Werk sy gal groot asseblief.

Marianne ·

Dis nie eens mooi nie! En so onsettend duur! Die Dingaan Stad monument is mooier, meer traditioneel en van pas.
Mnr Zuma en sy “connections” weet hoe om geld te mors. Betaal nou vir julle eie “ZOELOE KRAAL”.

Lance ·

Skandes op skandes week na week …hy dink ons is dom …of is dit hy hehe

Cherokee ·

…’hy dink ons is dom’ sê jy. Wel, ek dink ook so.
Die kiesers het die land in die dillema beland waar dit nou is in die ’92 referendum. Daarna al hoe meer luiddrugtig begin kla toe dit waarvoor gestem is, gerealisseer het. Toe het kiesers wat hulself as konserwatief beskou het heel liberaal gedraai en DA begin stem. Daar word in die forums geskel oor dit wat regstellende aksie genoem word maar tydens verkiesings word daar herhaaldelik daarvoor gestem. Daar word gekla wanneer Afrikaans nie tot sy reg kom nie soos byvoorbeeld by skole maar wanneer daar gestem word, word gestem vir die DA wat Afrikaans minag. Zimbabwe is ‘n buurland en daar word so krities gepraat oor boere wat hul plase verloor het in Zim maar as daar gestem word, word vir grondhervorming gestem. So ja, ek dink ook nie dat ons slim is nie.

m ·

Twyfel sterk of hy enige geld gaan terugbetaal. Die bedrag is ma net genoem om almal stil te maak. Hierdie man gaan nie n sent terug betaal nie. Die belastingbetaler sal getap word vir hierdie geld…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.